Onderwys in die Wes-Kaap staar 'n ernstige krisis in die gesig wat 'n direkte invloed kan hê op die toekoms van kinders in skole. Buiten dat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) noodgedwone ingelig is om
2 407 onderwysposte te sny in 2025, het dit ook aan die lig gekom dat die departement 'n tekort van R4.4 miljard tor R6.3 miljard in die gesig staar vir noodsaaklike programme van openbare skole.
Die nuus rakende onderwysposte is op 30 Augustus bekend gemaak aan skole deur die WKOD. Brent Walters, die hoof van die departement het skole skriftelik in kennis gestel oor die besluit. Die departement het wel in persverklarings genoem dat hulle alles in hul vermoë doen om te veg vir hul onderwysers om hul werk te behou. Volgens David Maynier: Wes-Kaapse Provinsiale minister van onderwys , het die provinsie weens die voortslepende begrotingsbesnoeiings net 64% van salarisbegroting wat op nasionale vlak beding is, gekry het. Hy moes dus noodgedwonge dus 36% self finansier wat 'n begrotingstekort van ongeveer R3,8 miljard beteken.
Minister Manier comment
Min David Manier was in gesprek met Oudtshoorn Courant oor die netelige situasie:
"Ons verwelkom die leierskap wat minister Sivine Gwarube: Nasionale minister van basiese onderwys toon om die omvang van die nasionale fiskale noodgeval wat provinsiale onderwysdepartemente in die gesig staar, uiteen te sit. Die besluit deur die nasionale regering om nie die 2023-meerjarige loonooreenkoms ten volle te finansier nie, het provinsiale onderwysdepartemente in 'n onmoontlike posisie geplaas. "
"Elke keuse wat ons maak om die fiskale noodgeval te hanteer, sal 'n negatiewe impak op leerders hê. Ons sal voortgaan om met ander provinsies saam te werk deur die Raad van Onderwysministers om te veg vir ons onderwysers en kwaliteit onderwys in die Wes-Kaap. Skole het hul hersiene diensstaat (aantal en tipe poste) vir 2025 op 30 Augustus 2024 ontvang. Sommige kontrakonderwysers sal nie heraangestel word nadat hul kontrakte op 31 Desember 2024 eindig nie, en sommige permanente onderwysers sal gevra word om na 'n ander skool te skuif waar daar 'n geskikte vakature is."
Wes-Kaapse onderwys departement reageer op nasionale besluit
Tania Colyn: mediawoordvoerder, Wes-Kaapse Onderwys het die volgende punte uitgewys:
Die nasionale regering se besluit om nie die 2023 meerjarige openbare sektor loonooreenkoms ten volle te finansier nie, het kritieke leerderondersteuningsprogramme regoor die land in gevaar gestel.
Elke provinsie staar 'n fiskale noodgeval in die gesig weens die nasionale regering se besluit.
Elke provinsie sal 'n manier moet vind om die enorme koste van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms te dek, wat die nasionale regering gekies het om nie ten volle te betaal nie. Hoe provinsies die tekorte, as hulle selfs in staat is om dit te doen, sal verskil, maar elke opsie wat ons kies sal 'n negatiewe impak op ons kinders se toekoms hê.
Eerstens het die WKOD ooreengekom dat hul skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes teen die vermindering van poste sal beskerm. Dit is die mees kwesbare leerders en vereis ekstra sorg en ondersteuning van die departement.
Tweedens is ooreengekom dat befondsing vir skoolmaaltye of leerdervervoer nie besnoei sal word nie. Daar word daagliks maaltye aan meer as 535 000 kwesbare kinders verskaf, en vervoer byna 68 000 leerders skool toe wat andersins dit nie sou kon bywoon nie.
Derdens is ooreengekom dat die befondsing wat skole ontvang om hul daaglikse uitgawes te betaal, nie gesny sal word nie. Skole maak staat op hierdie befondsing om vir alles van water en ligte tot skryfbehoeftes te betaal.
'n Situasie waar skole nie eksamen kan skryf nie omdat hulle nie 'n vraestel kan bekostig nie, of dat hul elektrisiteit ontkoppel word omdat hulle nie die rekening kan betaal nie is onaanvaarbaar. Die keuse om die aantal onderwysposte te verminder was dus 'n onvermydelike een.
"Dit is hoekom die departement veg vir ons onderwysers saam met ander provinsies, om te verseker dat Basiese Onderwys 'n prioriteit vir Suid-Afrika is. Ons vra politieke leiers, onderwysersvakbonde, aktiviste en ouers om saam met ons te veg, eerder as teen ons, vir basiese onderwys en vir ons onderwysers, sodat ons saam kwaliteit onderwys vir elke kind in elke provinsie in Suid-Afrika kan lewer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’