Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Hope rommel wat die veld, oop erwe en gedeeltes van die middedorp ontsier, het 'n organisasie genoop om in te gryp en 'n verskil te probeer maak.
Die Trappsuutjies-projekte, 'n organisasie wat hom met bewaring en volhoubaarheid bemoei, het die #trashbag-inisiatief begin om die hope rommel te verminder.
Hulle het Woensdag, in samewerking met die Oudtshoorn-besigheidskamer vrywilligers genooi om aan die eerste opruiming deel te neem. Daar was 28 vrywilligers van verskillende sakeondernemings wat saam met ses Trapsuuitjieslede die area rondom die Condorstraat-begraafplaas aangedurf het.
Die veld langs die begraafplaas was besaai met papier, plastiek, glas, materiaal en selfs bourommel. Terwyl die meeste vrywilligers daar doenig was, het 'n ander groep die parkie oorkant Indraf Kafee en 'n oop erf langs 'n huis skoongemaak.
Volgens Susan Botha, koördineerder van Trapsuutjies-projekte het hulle #trashtag begin om die dorp skoon te kry en om mense aan te spoor om self in te spring en op te ruim.
"Dit sal wonderlik wees as ons 'n punt bereik waar elke inwoner verantwoordelikheid neem net vir die stukkie straat of sypaadjie voor sy eie huis of winkel."
Sy sê dat die groter prentjie nie 'n inisiatief is wat eenkeer 'n maand ander mense se rommel opruim nie. "Ons wil weer die gemeenskap laat trots voel op hulle omgewing en verantwoordelikheid aanvaar vir die toestand. Saam met die opruiming is hierdie ook 'n reusebewusmaking om mense verantwoordelikheid te laat aanvaar vir hulle afval."
Vrywilligers besig om 'n hoop rommel in sakke te stop.
Kyk 'n video hieronder:
Een van die vrywilligers Liesl Barry, het gesê mense praat so maklik daarvan om iets "weg" te gooi.
"We say we throw stuff away, but there is no 'away' there is only a 'somewhere' so whatever we discard ends up somewhere and becomes a problem for someone else."
Die #trashbag-inisiatief gaan elke maand op die Woensdag die naaste aan die 15de van die maand, 'n spesifieke deel van die dorp takel. Mense wat belangstel om deel te neem kan Trapsuutjies-projekte se Facebookblad dophou vir inligting.
Die Oudtshoorn Courant sal ook elke maand op ons webblad en Facebookblad laat weet waar die volgende opruiming gaan plaasvind.
Lees 'n vorige artikel: Operasie opruim begin vandag
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'