OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Rotariërs wil vanjaar 1 000 'krimisbokse' insamel om kinders in en om Oudtshoorn met 'n Kersgeskenk te bederf.
Volgens Suné Rupping, president van die Rotariërs, het hulle met die samewerking van die gemeenskap, reeds 750 bokse ingesamel.
"As ons meer as 1 000 bokse kan insamel sal dit fantasties wees. Rotary International se tema vanjaar is 'Making a difference.'
En dit is presies wat ons met hierdie projek wil doen. Ons wil 'n verskil in ons eie dorp en vir ons eie kinders maak," het sy gesê.
Rupping sê die Rotariërs fokus vanjaar op voorskoolse ontwikkeling en daarom gaan die geskenkpakkies vir voorskoolse kinders gegee word.
"Die pakkies moet universele geskenkies bevat sodat dit aan 'n seun of meisie gegee kan word. Dit is baie eenvoudig om dit te maak.
"Versier 'n skoenboks en sit geskenkies soos inkleurkryte of potlode, toiletware, lekkergoed, 'n boekie of enigiets wat 'n voorskoolse kind sal geniet in die boks."
Sy het verder gesê indien iemand betrokke wil raak, maar nie tyd het om 'n boks te pak nie kan hulle 'n R100 skenk en die Rotariërs sal self die boks pak.
Die sperdatum vir die projek is 1 Desember. Die geskenk of geldelike donasie kan by Baron van Reedestraat 84 afgelaai word.
Rupping is ook bereid om self die geskenk by skenkers op te laai indien iemand nie vervoer het nie.
Vir verdere inligting skakel haar by 082 309 7834.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'