Update
OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die probleme vir die huurders van die ou Onderwyskollege Suid-Kaapland-gebou (OKSK) in Springbokweg, Bridgton geen einde het nie met 'n brand en nog 'n inbraak wat oor die afgelope langnaweek daar plaasgevind het.
Oudtshoorn Courant het in die uitgawe van 22 September berig dat organisasies wat hier gevestig is gebuk gaan onder voortdurige inbrake en vandalisme.
Hierdie trant is vandeesweek voortgesit toe 'n brand Vrydagaand in 'n buitegebou ontstaan het en booswigte weer Dinsdagoggend vroeg, of laat die vorige aand, by die gebou ingebreek het en chaos veroorsaak het.
Volgens Susan Botha, stigter van Real Life Commit wat opleiding vir fisies gestremde mense aanbied en in die gebou gevestig is, het die brand in een van die buitegeboue ontstaan waar iemand voorheen gewoon het.
"Hulle het al die vullis en goed daar 'gedump'. Dit moet brandstigting wees deur mense wat hier inkom," het sy gesê.
Botha het gesê die brandweer kon gelukkig die brand blus voor dit na die hoofgebou versprei het.
"En vanoggend toe sien ons alles is nou net weer 'ge-demolish' en alles is uit die kaste gegooi en die plek is deurmekaar. Jy kon ook sien waar hulle vuur gemaak het binne die gebou om lig te maak," het Botha Dinsdag gesê.
Tafels, stoele, gordyne en tafeldoeke is gesteel. Botha vermoed die diefstal het oor die naweek plaasgevind, maar sy is nie seker nie.
Navrae is aan Suid-Kaap polisiewoord-voerder Chris Spies gestuur oor hierdie en ander voorvalle. Spies kon bevestig dat geen saak rakende die brand gemaak is nie.
Vorige navrae aan die departement openbare werke en die departement van hoër-onderwys en opleiding wat beide belange in die gebou het is ook steeds nie beantwoord nie.
Vorige artikel: Inbrake en vandalisme kniehalter opleiding
So het booswigte die kantore binne die gebou gelaat na die laaste inbraak.
So het booswigte die kantore binne die gebou gelaat na die laaste inbraak. Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’