Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Vlaag inbrake vanjaar by die ou Onderwyskollege Suid-Kaapland-gebou (OKSK) in Springbokweg, Bridgton, waarvan die mees onlangse gevalle verlede week en oor die afgelope naweek plaasgevind het, het weer nie net die gebou se vervalle toestand in die kollig geplaas nie, maar ook dat niemand verantwoordelikheid wil neem nie.
Die gebou huisves tans 'n Adult Basic Education and Training (ABET)-leersentrum, die Real Life Commit-organisasie (RLC) en CWP-kantore.
FOTOGALERY: Vervalle gebou in die kollig
RLC bied opleiding vir fisies gestremde mense.
Volgens Susan Botha, stigter van RLC het die gebou sedert Februarie vanjaar minstens ses keer onder booswigte deurgeloop.
Die diefstal het so erg geraak dat 'n vierde instansie wat daar rekenaaropleiding aangebied het hul bedrywighede gestaak het.
"Daar is 10 van hul rekenaars gesteel, en hulle het by ons ook al rekenaars gesteel in Februarie," het Botha vertel. Hierdie rekenaars van RLC word gebruik om onder meer rekenaarvaardighede aan fisies gestremde mense te bied. Daar is ook leerders van Boland Kollege wat hierdie rekenaars vir die leer van teorie moet gebruik.
Buiten die diefstal van rekenaars, het Botha gesê, word onder meer staalhekke, stoele, vensterrame, kombuisware en elektriese toebehore gesteel. Gepaard met die diefstal is daar ook die konstante vandalisme van die gebou, binne en buite. Daar word selfs vuur in vertrekke gemaak.
Volgens Botha het sy al probeer reël vir sekuriteit. "Ons het met munisipale amptenare gepraat, maar hulle het vir my gesê hulle lewer nie dienste daar nie omdat die gebou nie aan hulle behoort nie, dit behoort aan die departement openbare werke. Maar daar is ook vir die afgelope drie weke geen water of elektrisiteit in daai gebou nie," het sy bygevoeg.
Sy het gesê mense wat die gebou gebruik moet nou al met kannetjies water van die huis af kom om toilette te kan spoel. En sonder krag kan die oorblywende rekenaars nie gebruik word nie.
Sy het self ook al skrywes gerig aan onder andere die munisipale bestuurder en speaker van die munisipaliteit om te vra om hulp, en ook aan die departement openbare werke.
Oudtshoorn Courant het in 2022 berig dat die munisipaliteit in die proses was om die gebou vanaf die provinsiale departement openbare werke oor te koop. Hulle sou net as tussenganger optree tussen die provinsiale departement en die nasionale departement met die koopproses.
Daar is ook in 2018 berig dat die gebou se toekoms tydens 'n Salga-konferensie bespreek is. Lluwellyn Coetzee, toe waarnemende direkteur: strategiese dienste van die munisipaliteit, het in die berig van 2022 gesê die nasionale departement openbare werke was besig met die beplanning van die herstel van die gebou, asook die proses om vas te stel watter nasionale departemente (bv. polisie, departement van arbeid, ens.) daar gehuisves sal word.
Die OKSK-gebou in Bridgton loop onder vandalisme en diefstal deur. So lyk ‘n kantoor binne die gebou. Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’