OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) wat vanjaar sy agtste bestaansjaar vier het Saterdagaand met sy jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid in die banketsaal afgesluit.
By die geleentheid is waarderingssertifikate en geskenke aan alle instansies en individue wat die forum die afgelope jaar ondersteun het oorhandig sowel as trofee en sertifikate aan die wenners van verskeie kompetisies.
Johnny Baartman, hoof-uitvoerende beampte van die forum, het 'n kort oorsig gegee van die organisasie se aktiwiteite die afgelope jaar met spesiale vermelding van die eerste, en uiters geslaagde, Gospel-talentkompetisie en die jaarlikse Erfenis- en Kultuurfees wat jaarliks groei.
Voorts is die OCJF weereens vanjaar aangewys as Eden se Rekreasie-organisasie van die Jaar en verlede jaar ook die Wes-Kaapse wenner.
Die forum se projekbestuurder, Phillip Seroux, het namens die forum sy dank teenoor almal wat die afgelope jaar daartoe bygedra het om 'n verskil in mense se lewens te maak.
"Ten spyte van die feit dat die OCJF geen nasionale finansiering ontvang nie is ons baie trots en dankbaar vir wat ons kon doen danksy plaaslike ondersteuning van instansies en besighede," sê Seroux.
Die forum beplan om op 18 Desember 30 kinders van omliggende plase na die Gamkaberg Natuurreservaat te neem, op
20 Desember 'n tweede groep na Robberg by Plettenbergbaai en van 4 tot 6 Januarie 2019 'n groep van 60 wat volgende jaar na die hoërskool gaan vir 'n voorbereidingskamp in Bergoord.
Die forum se jaarliks Christmas Bash vind vanjaar op 22 Desember op die oop grond by Polisiehoogte plaas. Voorts word 'n Kersete op 23 Desember vir sowat 50 senior burgers van Wyk 4, Williamsstraat, Jan Mckaystraat, Johansenstraat en Polisiehoogte aangebied.
Instansies, sakelui en individue wat die OCJF wil help kan Seroux by 079 987 9486 skakel.
Tydens Saterdagaand se toekenningsaand van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) is van links: Hilton Stols (rugbylegende), Franzu Badenhorst (Famsa), Phillip Seroux, (OCJF: projekbestuurder), rdl Eva Fortuin, Johnny Baartman (OCJF: hoof- uitvoerende beampte), Phillip Bush (Korrektiewe dienste), Danie Murray (rugbylegende), Morne Pietersen (EDENfm-stasiebestuurder) en Randall George (African Bank-verteenwoordiger). Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'