OUDTSHOORN NUUS - Hoërskool Protea se personeel is drie leerkragte ryker.
Duwayne Gertze, Hendrihanda Goliath en Lindsey Booysen, het vanjaar by die skool aangesluit.
Gertze (21) het verlede jaar by Noord-Wes-Universiteit gegradueer en is oorspronklik van Dysselsdorp. Hy het verlede jaar ses maande ondervinding by Aurial Kollege opgedoen en sal geografie (gr. 8 en gr. 9) en toerisme (gr. 10 en gr. 12) aanbied en ook by skaak betrokke wees.
Goliath (22) is 'n boorling van Oudtshoorn wat verlede jaar haar graad by CPUT behaal het. Benewens haar betrokkenheid by die skool se netbalspan, sal sy onderrig in wiskunde (gr. 8 tot gr. 9), lewensoriëntering (gr. 10) en wiskundige geletterdheid (gr. 10) gee.
Booysen is ook 'n plaaslike onderwyser wat die afgelope drie jaar by Bridgton Senior Sekondêr onderrig gegee het. Hy sal klasse in Afrikaans (gr. 10 en gr. 12) en tegnologie ( gr. 8 en gr. 9) onderrig.
Granwell Strydom, prinsipaal by dié skool, is in sy skik met die nuwe bloed en sê dat dit 'n bewys is dat die skool se leerdertal teen 'n vinnige pas groei weens die kwaliteit onderrig wat die skool bied.
"Ons is uiteraard baie opgewonde om die jong energieke onderwysers te verwelkom wat sonder twyfel ons werklading draagliker sal maak.
"Daar is ook heelwat hoogtepunte waarna die gemeenskap kan uitsien soos ons eerste matriekklas wat aan die einde van die jaar sal matrikuleer. Vir ons is dit 'n besonderse mylpaal wat gepaardgaan met die viering van ons vyfde bestaansjaar. Hierdie vieringe sal oor kwartale strek wat beslis die breë gemeenskap sal insluit".
Van links is: Duwayne Gertze, Hendrihanda Goliath en Lindsey Booysen. Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'