Video
OUDTSHOORN NUUS - Die A-skof van die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn is aangewys as die land se tweede beste Vispol-span van die jaar.
Dié gesogte toekenning het hulle tydens die SAPD se nasionale uitnemend-heidstoekennings wat onlangs in Pretoria plaasgevind het, behaal. Dié eenheid is verlede jaar, tydens die Wes-Kaapse uitnemendheidstoekennings, aangewys as die Vispol-span van die jaar. Hiervolgens is hulle deur na die nasionale toekenningsgeleentheid.
Die doel van die visuele polisiërings-eenheid (Vispol) is om alle misdaad te ontmoedig deur 'n proaktiewe en responsiewe polisiëringsdiens te lewer en om gemeenskapsvertroue in die SAPD te vestig.
Kaptein Henry Claassen tydens die seremonie.
Die skof bestaan uit kapt. Henry Claassen (skofbevelvoerder), sers. Divan Olivier, sers. Gershwin May en sers. Patrick Jaftha.
Kol. Retha Louw, eenheidsbevelvoerder sê sy is ongelooflik trots op haar span. "Net drie spanne uit nege provinsies is genooi. Ons het meegeding teen 'n taakspan van KwaZulu-Natal en 'n reddingseenheid wat met honde in Turkye na 'n aardbewing gaan help het om slagoffers op te spoor. Dit is groter eenhede met meer misdaad. Dit wys die impak wat die honde-eenheid op die bekamping van misdaad het en die kardinale rol wat die eenheid in 'n gemeenskap kan speel."
VIDEO:
Volgens haar dui dit ook op die kwaliteit werk wat deur die Attaqua honde-eenheid gelewer word.
"Die skof het met die toekenning weg-gestap, maar die hele eenheid dra by tot ons suksesse. Elke lid staan elke dag op en doen met trots sy werk."
Sers. Patrick Jaftha spog met Brooke se vermoë om plofstof uit te snuffel.
Sers. Divan Olivier demonstreet hoe Bonie, sy patrolliehond, demonstreer hoe sy hond teenoor beweerde misdadigers optree.
Sers. Divan Olivier het amper 20 jaar diens in die SAPD en werk met 'n patrolliehond, Bonie. Hy is ook as springstofhonde-hanteerder opgelei. Sers. Patrick Jaftha het 13 jaar ervaring as polisiebeampte en is opgelei as plofstofhondehanteerder en werk sy-aan-sy met Brooke (die eenheid se springstofhond).
Sers. Gershwin May is ook reeds 13 jaar in die polisie waarvan hy ses jaar deel is van die honde-eenheid. Kapt. Henry Claassen is reeds agt jaar verbonde aan die Attaqua-honde-eenheid.
Die eenheid het ook twee dwelmhonde en 'n bloed- en semenhond.
Klik op die skakel om die vorige berig te lees:
Plaaslike SAPD-lede presteer in WK
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’