Video Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Lede van die Oudtshoorn-polisie het besonder goed gevaar by vanjaar se Wes-Kaapse 2022/2023 Uitnemendheidstoekennings.
Ao. John-Marcell Muller en konst. Ruan Kennard, beide lede van die Tuinroete-blitspatrollie, het die toekenning vir beste vangs van die jaar gekry.
Die toekenning is ontvang vir 'n arrestasie wat in Desember 2022 gemaak is na hulle, en ander lede van die blitspatrollie, die beweerde misdadigers in die Avontuur-omgewing vasgetrek het.
'n Heen-en-weer skietery het tussen die polisie en die beweerde misdadigers ontstaan en een van die verdagtes is noodlottig gewond.
Muller en Kennard is dit eens dat hulle baie trots is op hulle prestasie.
"Die polisie kry baie negatiewe kommentaar, maar daar is van ons wat regtig hard werk en probeer om van die dorp 'n veiliger plek te maak. Dit voel goed om vereer te word vir dit wat ons reg doen. Dit beteken dat daar wel mense is wat dit raaksien."
Muller het bykans 34 jaar se ervaring.
"Wat mense vergeet is dat ons elke dag ons lewe op die spel plaas. Daar is werklik gevalle waar mense op ons skiet. Die groot geheim is om met die regte mindset daar in te gaan, anders gaan jy baie seerkry."
Kennard, 'n gebore Oudtshoorniet, is nou drie jaar in die SAPD. Hy sê hy is trots op wat hy bereik het. Volgens hom het hy by Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer en het daarna in die Kaap studeer.
"Toe ek hoor ek kan polisie toe gaan het ek dadelik gegaan. Dit is wat ek nog altyd wou doen - ek het 'n passie daarvoor."
Oor sy toekenning, sê Kennard, voel hy baie in sy noppies.
"Ek is dankbaar vir goeie kollegas en lede wat ek weet daar is vir jou as die situasie warm raak."
Attaqua-honde-eenheid
Lede verbonde aan die Attaqua-honde-eenheid in Oudtshoorn, het die toekenning vir die Vispol-span van die jaar gekry.
Sers. Divan Olivier is bykans 20 jaar in diens van die SAPD. Hy is oorspronklik van die Kaap, waar hy deel was van die Kaapse honde-eenheid. Hy spesialiseer as 'n patrollie- en springstofhanteerder.
"Ons, as span, werk hard om die misdadigers te arresteer. Dit maak my bly om te sien as ons harde werk vrugte afwerp."
Olivier is saam met konst. Patick Jaftha, kapt. Klaassen, skofbevelvoerder, en sers. Gershwin May op 'n skof.
Volgens Jaftha, met 13 jaar ervaring as polisiebeampte, is 'n polisieman net so goed soos die span saam met wie jy werk. Hy is oorspronklik van Dysselsdorp en is 'n patrolliehondehanteerder.
"Ons is 'n goeie en hardwerkende skof en ons dien ons gemeenskap met passie. Ons wil ook dankie sê aan die manne en vroue van die Dysselsdorp-, Calitzdorp- en Ladismith-polisie. Julle bydrae tot ons suksesse gaan nie ongesiens verby nie."
Sers. Gershwin May is ook reeds 13 jaar in die polisie waarvan hy ses jaar deel is van die honde-eenheid. Volgens hom is hulle suksesse te danke aan goeie leierskap en spanwerk.
Kapt. Henry Claassen, skofbevelvoerder, is reeds agt jaar verbonde aan die Attaqua-honde-eenheid en is oorspronklik van die Oos-Kaap. Hy het 'n etlike aantal jare in George gewerk. Volgens hom is hierdie 'n merkwaardige prestasie vir sy skof.
"Mens moet in ag neem dat dit 'n provinsiale kompetisie was. Net drie skofte in dieselfde kategorie het deurgedring, een van Ladismith en een van die Kaap en beide die skofte bestaan uit sewe lede. Ons is net vier. Die toekenning is egter nie net ons skof se toekenning nie, dit is ons kolonel en die res van ons eenheid se toekenning."
Claassen sê die span by die honde-eenheid is 'n merkwaardige groep wat 'n hoë standaard handhaaf.
"Ons gaan nie huis toe as dit 18:00 is nie. Ons gaan huis toe as ons werk klaar is. Ons span het baie trots en passie vir wat ons doen."
Hy sê verder dat misdadigers weet wanneer die honde-eenheid aan diens is.
"Ons het 'n presence as ons iewers moet wees."
Die span sê hulle hoop dat hulle prestasie ander lede in die polisie aanmoedig om nog beter te doen as wat hulle reeds doen.
Kol. Retha Louw, eenheidsbevelvoerder van die Attaqua-honde-eenheid, sê om bevelvoerder van die eenheid te wees maak haar geweldig trots.
"Hulle is 'n ongelooflike toegewyde span wat altyd die ekstra myl stap. Hulle passie word raakgesien deur wat hulle elke dag doen en die uitmuntende etiek waarmee hulle hul werk doen. K-9 Attaqua het sterk werketiek wanneer dit by dienslewering kom. Ek wens dat die hele eenheid by die toekenning ingesluit kon word. Hulle almal verdien dit."
WATCH HERE - Western Cape SAPS Excellence Awards - Catch of the year
Konst. Ruan Kennard en ao. John-Marcel Muller tydens die toekenningsgeleentheid.
Van links is konst. Patrick Jaftha, sers. Divan Olivier, kapt. Henry Claassen en sers. Gershwin May tydens die toekenningsgeleentheid.
Van links is Brooke, 'n suiwer springstofhond, en haar hanteerder, konst. Patrick Jaftha, kapt. Henry Claassen, sers. Gershwin May en sers. Divan Olivier met sy hond Bonie, 'n patrolliehond. Foto: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’