Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die Teksmark Oudtshoorn het die afgelope naweek by die Neelsie-teater, by die KKNK-kantore op Arbeidsgenot, plaasgevind.
Altesaam 13 skrywers het hul werk aangebied, met die fokus op kabaret, satire en komedie.
Die geleentheid het ’n kykie gebied op nuwe Suid-Afrikaanse teaterproduksies en hul potensiaal om gehore te bereik.
Gen X Konvensie: Terug na die basics - Shandré Bruintjies
Die drama ondersoek die generasiegaping binne ’n Oudtshoorn-gemeenskap en raak kwessies soos gebroke gesinne, verslawing, werkloosheid, groepsdruk en sosiale media aan. Dit beklemtoon die belangrikheid van leiding, vergifnis en wedersydse begrip.
Die stuk is die debuutwerk van Shandré Bruintjies, ’n kuns- en gemeenskapsontwikkelingspraktisyn van Oudtshoorn. Volgens Bruintjies is die produksie positief ontvang, veral vanweë die temas van dissipline en generasieverskille. Daar is ook belangstelling om die stuk verder te ontwikkel en na laer- en hoërskole te neem.
Die Kruis wat ek dra - Danelle Titus
Hierdie aangrypende eenvroudrama vertel die verhaal van die 18-jarige regstudent Janet Jones, wat ná ’n verkragting deur ’n familievriend met ’n ongewenste swangerskap en die trauma daarvan worstel. Die produksie ondersoek temas soos identiteit, skuldgevoelens, generasietrauma en genesing. Skrywer en teatermaker Danelle Chereé Titus sê die gehoor het sterk met Janet se verhaal vereenselwig. Die positiewe ontvangs het die belangrikheid van sulke verhale en die gesprekke oor trauma, begrip en empatie beklemtoon.
Terminale helderheid - Almero Welgemoed
Die drama speel af tydens die laaste ure van Magdaleen se lewe. Nadat sy uit ’n koma ontwaak, staan haar huishulp en jare lange versorger, Thembi, haar by. Wanneer haar dogter nie betyds opdaag om afskeid te neem nie, neem Thembi haar plek in. Dit lei tot die onthulling van familiegeheime en ’n pynlike verlede waarin skuld, vriendskap en verlies verweef is.
Die stuk is geskryf deur Almero Welgemoed, ’n musikant, skrywer en kunstenaar van Boggomsbaai.
Olifantshoek Kerkkoor - Stephan Henrico
Hierdie humoristiese verhaal speel af tydens die voorbereiding vir Olifantshoek se jaarlikse Kerssangdiens. Koorleidster Elsa sukkel om Saag, ’n tenoor met ’n eiesoortige sangstyl, op die regte spoor te kry. Haar pogings om hom te help loop egter skeef en hy gee uiteindelik koorsang prys.
Die verhaal is geskryf deur Stephan Henrico, ’n skrywer, digter en offisier in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
Henrico beskryf die Teksmark as ’n verrykende ervaring en sê die professionele begeleiding en akteurs se vertolking het hom geïnspireer om die stuk verder te ontwikkel. Die gehoor se positiewe reaksie op die humor en menslikheid van die verhaal was vir hom besonder bemoedigend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’