OUDTSHOORN NUUS - As storievertel deel van jou wese is, moet dit uit op papier. En, as die woorde boonop goed genoeg is om pryse te wen, raak skryf deel van jou lewe. Dit is die geval met Coen Basson, 'n finansiële adviseur van Oudtshoorn.
Hy het vanjaar vir die tweede keer 'n derde plek behaal in die nasionale skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.
Die kompetisie is die grootste Afrikaanse kortverhaalkompetisie in die land en lok jaarliks bykans 1 000 inskrywings in verskillende kategorieë. Basson sê hy het die afgelope vyf jaar ernstig begin skryf.
Behalwe vir 'n hele aantal kortverhale is hy ook besig met twee romans waaraan nog geskaaf word.
Hy is reeds vir vyf jaar by die Klein-Karoo Skrywerskring betrokke waar hy die afgelope drie jaar die voorsitter is. Nog 'n veer in sy skrywershoed is dat een van sy kortverhale in die Woordfeesbundel van 2019 opgeneem is. Slegs 25 van 'n paar honderd verhale wat vir die bundel aangebied word, word gekeur.
Volgens Basson was een van sy skryfhoogtepunte die winterskryfskool wat hy vanjaar by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom bygewoon het.
"Om vir die week lange kursus gekeur te word moes skrywers 'n kortverhaal instuur. Aangesien daar beperkte plek was, kon slegs skrywers wie se verhale gekeur is, die skryfskool bywoon," sê hy. Die waarde van die skryfskool het vir hom veral in die insette van uitgewers gelê.
"Verskillende uitgewers het verduidelik hoe die keuringsproses van manuskripte verloop en die realiteit is dat slegs drie of vier manuskripte uit elke 100 vir publikasie goedgekeur word.
Dit beteken dat 'n skrywer sy skryfwerk baie ernstig moet opneem en ure en ure moet insit om sy skryfwerk op 'n standaard te kry wat in daardie topdrie of -vier sal val."
Hy is tans hard besig om al sy kortverhale te redigeer om dit vir publikasie as 'n kortverhaalbundel aan 'n uitgewer voor te lê.
Oudtshoorn het ook in die skole-afdeling op die podium gepryk toe 'n gr. 11-leerder van Langenhoven Gimnasium, die Sotho-sprekende Refiloe Moshata, eerste prys behaal het in die afdeling vir nie-moedertaal skrywers.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'