OUDTSHOORN NUUS - Refiloe Moshata, 'n Sesotho-sprekende gr. 11-leerder by Langenhoven Gimnasium is 'n kategoriewenner van 'n nasionale Afrikaanse skryfkompetisie.
Sy het in Mei 'n kortverhaal vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisie ingestuur.
Dit is die grootste Afrikaanse skryfkompetisie in die land en lok jaarliks ongeveer 1 000 inskrywings in die verskeie kategorieë. Refiloe het die skoolkategorie vir nie-moedertaal skrywers gewen. Sy het hierdie week in haar ouerhuis op Oudtshoorn gesê sy het nie beplan om vir die kompetisie in te skryf nie. "My Afrikaanse onderwyser, Juffrou Ewerts, het gesê ek moet een van my opstelle bietjie uitbrei en instuur."
Helena Ewerts het 'n aantal leerders geïdentifiseer wat moontlik kon inskryf. 'n Plaaslike skrywer en digter het op 1 Mei 'n werksessie vir die groep leerders gehou en elkeen se storie bespreek. Op grond van die bespreking het Refiloe haar storie oor 'n pizza-aflewering wat in 'n romanse ontwikkel, puik aangepas en ingestuur.
Op 'n vraag hoekom sy in 'n Afrikaanse skool is as hulle huistaal Sesotho en Engels is, het sy gesê sy is reeds sedert gr. 1 in Afrikaanse skole.
"Ek het by 'n Afrikaanse skool op Potchefstroom begin en toe ons verlede jaar na Oudtshoorn getrek het, het ek met Afrikaans aangegaan."
Haar ma is 'n lid van die departement van korrektiewe dienste en is verlede jaar na Oudtshoorn verplaas. Haar broer en suster is onderskeidelik in Laerskool van Reede en Laerskool Wesbank. Of sy gaan aanhou skryf, weet Refiloe nie. "Ek hou daarvan om opstelle te skryf, maar ek is volgende jaar in matriek en dan wil ek probeer om aanvaar te word vir mediese studies," het sy Dinsdag gesê.
As wenner van haar afdeling ontvang sy 'n trofee, kontantprys sowel as gratis bywoning van 'n slypskool deur die bekende skrywer, Karin Brynard, op 24 Augustus in Bloemfontein. Haar kortverhaal word ook in die jaarlikse publikasie, Inkvars, van die Bloemfonteinse skrywersvereniging opgeneem.