OUDTSHOORN NUUS - Die sesde Prins Albert-leesfees vind vanjaar vanaf 3 tot 5 November weer in die Jans Rautenbach Schouwburg plaas.
Vanjaar word meer gefokus op musiek, sê die komitee. En behalwe die skryfskool vir leerders op Saterdag 4 November, aangebied deur die jeugskrywer Anzil Kulsen, is daar ook 'n slypskool vir volwassenes, aangebied deur prof.
Bernard Odendaal en prof. Hans du Plessis, hoof van die ATKV-skryfskool.
Die tema is: Die skryf van prosa/Writing prose.
Twee musiekhoogtepunte vanjaar is die optrede van die groep Tribal Echo (olv Frazer Barry), op Vrydagaand 3 November by die Schouwburg, en van die sanger-komponis Laurinda Hofmeyr, die baskitaarspeler Schalk Joubert en vier Wes-Afrikaanse sangers in Afrique mon desír/Afrika my verlange op Sondag 5 November in The Showroom Theatre.
Tribal Echo se aanbieding is: 'n Huldeblyk aan Adam Small/A tribute to Adam Small.
Die aanbod van skrywers vanjaar is besonders. Elza Miles, kunshistorikus en deesdae 'n inwoner van Prins Albert, word by die openingsgeleentheid vereer vir haar lewenswerk.
Die onderhoudvoerder is die digter Johan Myburg, wie se splinternuwe digbundel, Uittogboek, die volgende dag bespreek word (onderhoudvoerder: die digter/vertaler Daniel Hugo).
Daniel, Johan en die digter Gaireyah Fredericks gaan ook deelneem aan 'n poësievoorlesing: My gunstelinggedigte/My favourite poems.
Gaireyah en haar teatergroep gaan vir leerders op Vrydagoggend 3 November 'n aanbieding doen van hul teaterstuk Ons Komvandaan, in The Showroom.
Ander skrywers is Joyce Kotzè (The Runaway Horses/Wintersrust), 'n roman oor die Anglo-Boe-reoorlog, Hemelbesem (God praat Afrikaans), Nick Charlie Key (Jump on the Bant Wagon/Klim op die Bant Wagon), Richard Dean (Warriors, dilettantes and businessmen) en Mohale Mashigo (The Yearning).
Cas Wepener (Dubbelfoto en Syferfontein) se nuwe roman, Johanna, wat in Oktober verskyn, word bekend gestel.
Johanna handel oor 'n vrou wat in die jare sestig in George grootword en ontdek het sy is gay. Vir die gemeenskap is dit onaanvaarbaar.
Ná haar selfdood probeer haar familie dit verwerk. Nog 'n boek van Cas, oor die sterwenspro-ses in die oeuvre van Karel Schoeman (Die reis gaan inwaarts), word ook bespreek.
Nicol Stassen (uitvoerende hoof, Protea Boekhuis) – wat talle Schoeman-boeke uitgegee het – en Cas gesels oor Schoeman se bydrae tot die Suid-Afrikaanse literatuur.
'n Pluimpie vir vanjaar se Leesfeeskomitee is die optrede van die Vlaming Bart de Graaff, wat met Daniel Hugo (vertaler) gesels oor sy jongste boek Ik Yzerbek/Ware Mense.
Dis die roerende en ware verhaal van Goliat Yzerbek, eienaar van die plaas Brandewijsfontein aan die Rietrivier… totdat sendelinge sy grond afvat, in die naam van die Christendom.
Op die spanningsverhaalspyskaart is Mike Nicol (Agents of the State/Staatsrotte), Karin Brynard (Tuisland) en Rudie van Rensburg (Kamikaze). Kinderboeke vorm 'n groot deel van die Suid-Afrikaanse boekemark, en prof. Dorothea van Zyl, Wendy Maartens, Louisa Punt-Fouché (Rarest Riverine Rabbit/Skaarser as skaarsste oewerkonyn) en illustreerder Janienke van Zyl praat oor die groot Suid-Afrikaanse mark vir kinderboeke.
Hemelbesem, oftewel Simon Witbooi, gesels oor sy outobiografie God praat Afrikaans. Foto's: Marlene Malan
Pryse vir die wenners in die kompetisie vir skeppende skryfwerk word by die openingsgeleent-heid oorhandig.
Daar gaan 'n feesboekwinkel wees, asook die heerlike eetgoed van Johanna en Madri Luttig.
Lees 'n vorige artikel: 'n Fees van prosa, poësie en musiek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'