OUDTSHOORN NUUS - Nadat Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, verlede jaar deur die DA vir ses weke op verpligte verlof gestuur is terwyl ‘n ondersoek oor klagtes teen hom gedoen is, is dit nou die munisipale bestuurder se beurt om sy stoel tydelik te ontruim.
Tydens ‘n raadsvergadering Vrydag het die raad eenparig besluit dat Allen Paulse, die munisipale bestuurder, vir drie maande met volle betaling op verlof moet gaan terwyl klagtes teen hom ondersoek word.
Die media was nie by Vrydag se raadsvergadering toegelaat nie en ‘n verklaring van Aurelia Oliphant, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het geen besonderhede gegee behalwe dat die besluit eenparig was en dat Reginald Smit as munispale besuurder sal waarneem nie.
Die hele kwessie rondom ondersoeke teen die burgermeester deur die DA en klagtes wat deur die burgmeester teen Paulse gelê is, is skynbaar in ‘n inligtingskombers toegevou aangesien geen party enige navrae beantwoord nie.
Dit is dus op hierdie stadium glad nie duidelik hoe ver die DA se dissiplinêre verhoor teen die burgemeester gevorder het nie, en dit is ook glad nie duidelik of Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, enigsins die klagtes wat verlede jaar teen die munispale besuurder gelê is, ondersoek het nie.
Navrae wat verlede week aan die DA gestuur is en uiteindelik na Helen Zille verwys is, is nooit beantwoord nie. Dit tot groot frustrasie van Oudtshoorn se inwoners wat voel hulle word in die duister gehou.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'