Update
DYSSELSDORP NUUS - Die verdagte wat van moord op 'n jong man van Dysselsdorp aangekla word, het Vrydag koue voete gekry en sy borgtogaansoek in die Oudtshoorn-landdroshof laat vaar.
Christopher Prins (27) het na bewering die oggend van 4 Mei die 20-jarige Ruwaan (Boetie) Kennedy met 'n mes in die bors gesteek terwyl hy saam met vriende van 'n kuierplek onderweg was huis toe.
Prins se regshulpprokureur, Cindy Smith, het die hof meegedeel dat hy besluit het om nie voort te gaan met die borgtogaansoek nie.
Die hofsaal was stampvol met inwoners wat vroeër die oggend 'n plakkaatbetoging buite die landdroshof gehou en 'n versoekskrif met 1 000 handtekeninge aan landdros Mia Venter oorhandig het waarin versoek word dat borgtog nie toegestaan word nie.
Leon Campher, gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het na die hofverrigtinge gesê: "As gemeenskap, familie en vriende is ons almal dankbaar vir die verdagte se besluit en sodoende is ons seker nog 'n persoon wat by 'n misdaad betrokke is, word aangehou."
Volgens die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, is verskeie verslae nog uitstaande en landdros Theolin November het die saak vir verdere ondersoek tot 14 Junie uitgestel.
Hy het aan Prins verduidelik dat, indien hy anders besluit, hy enige tyd 'n borgaansoek voor die hof kan bring.
Inwones van Dysselsdorp Vrydagoggend voor die landdroshof op Oudtshoorn. Regs staan Janine Petersen, ma van wyle Ruwaan Kennedy. Foto: Garnett Wicomb.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'