Update
DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen 'n man wat daarvan aangekla word dat hy sy saamleefmaat en hul seuntjie aan die brand gesteek en die vrou later gesterf het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot Mei uitgestel.
Gert Malgas (35) van Dysselsdorp, staan tereg op aanklag van moord, drie aanklagte van poging tot moord, brandstigting, intimidasie en regsverydeling.
Hy ontken dat hy die aand van 2 Januarie 2018 paraffien op sy saamleefmaat, die 37-jarige Josephine Jacobs, gegooi het en haar aan die brand gesteek het.
Sy het ten tyde van die voorval in 'n bed saam met hul seuntjie, Gerano, gelê. Gerano het ernstige brandwonde opgedoen en was in Kaapstad in die hospitaal.
Hy is later ontslaan.
Malgas het tydens die verhoor getuig dat hy agter Jacobs se rug gelê het toe Jacobs se dogter paraffien op hulle gegooi het, 'n vuurhoutjie aangesteek het, en op hom gooi het. Jacobs se 14-jarige seun, Johannes, was nie in die huis nie, het hy getuig.
Volgens hom het hy uitgehardloop en toe hy by die hekkie omkyk gesien die huis brand. Malgas het egter geen brandwonde opgedoen nie.
Volgens hom het die oorledene uit die huis gekom en het hy die vlamme aan haar hare en klere met sy kaal hande geblus.
Malgas kon nie aan die staatsaanklaer, Willem Vister, verduidelik waarom hy self nie brandwonde aan sy hande opgedoen het toe hy die vlamme op sy saamleefmaat geblus het nie. Sy antwoord hierop was dat sy hande net swart was omdat hy die vlamme vining geblus het.
Streeklanddros Ntsoki Moni, het die staatsaanklaer en Malgas se regsverteenwoordiger gevra om hul betooghoofde skriftelik aan haar te voorsien en die saak vir uitspraak tot 5 Mei uitgestel.
Vorige artikels:
- Man wat vrou aan die brand steek in hof
- Opvolg: Brandslagoffer binnekort ontslaan
- Brandslagoffer binnekort ontslaan
- Vrou sterf, seun veg voort
- Ma en seun aan die brand gesteek
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'