Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 7-jarige seun, Gerano, van Dysselsdorp wat ernstige brandwonde aan die begin van die jaar opgedoen het na hy en sy ma, Josephine Jacobs deur sy pa, Gert Malgas, aan die brandgesteek is, behoort binnekort ontslaan te word.
Jacobs het op 3 Februarie aan haar beserings in 'n hospitaal in Kaapstad beswyk.
Die Oudtshoorn Courant het berig dat 'n familielid van Josephine en Gerano, Amanda Afrika, gesê het dat Gerano ongeveer 60% brandwonde aan sy lyf opgedoen het.
"Ek was Vrydag by hom gewees. Meeste van sy verbande is al af en hy sterk goed aan."
Volgens haar gaan Gerano waarskynlik na die St. Joseph's-sentrum oorgeplaas word waar hy fisioterapie en berading gaan ontvang.
"Dit sal goed wees vir hom aangesien hulle ook 'n skool daar het. Hy sal dus met sy skoolwerk kan aangaan."
Malgas het in Januarie vir 'n borgtogaansoek verskyn op twee aanklagte van poging tot moord. Hy het glo kookolie oor Jacobs en haar seun, Gerano gegooi het en hulle aan die brand gesteek het.
Een klag het na moord verander.
Hy is borgtog geweier en sal weer op 26 Maart verskyn.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'