Update
DYSSELSDORP NUUS - "Hy het groot drome vir sy toekoms gehad. Hy wou iets van sy lewe maak en toe kom iemand en neem dit weg, nie net van hom af nie, maar van sy familie ook."
So sê Fredricka Otto, die ouma van Ruwaan Kennedy (20), wat vroeg Saterdagoggend in Dysselsdorp vermoor is na hy 'n bakleiery wou keer.
Duwayne Karspey, 'n vriend van Ruwaan wat Vrydagaand saam met hom was, het vertel wat gebeur het.
"Ek en Ruwaan en nog 'n vriendin het gaan kuier en 'n meisie wat ons nie ken nie het heeltyd tussen ons kom dans. Ons het op 'n ander plek gaan dans, maar sy het elke keer weer teruggekom. Ons het toe maar later geloop en toe kom die meisie agterna en wil baklei. Sy het aan Ruwaan begin slaan en hy het met haar gepraat en gevra hoekom sy wil baklei. 'n Ander man het toe nader gestap en toe gooi hy Ruwaan met 'n klip.
"Ruwaan het vir hom gesê hulle moet sê wat fout is dat ons die probleem kon uitsorteer, maar toe ruk die man 'n mes uit en begin na Ruwaan steek. Hy het vyf keer na hom gesteek en die vyfde keer toe steek hom in die borskas.. Na hy Ruwaan gesteek het, het hy ook na ons met die mes gesteek. Hy was aggressief."
Karspey het na die voorval Ruwaan se familie by die huis gaan haal.
Otto sê sy en Ruwaan se oupa, Andries, het na die toneel gehaas waar hulle hul kleinseun dood aangetref het..
"Ruwaan was 'n vredeliewende kind wat nooit met iemand moeilikheid gesoek het nie."
Volgens haar was die man wat Ruwaan vermoor het al in hulle huis gewees en hy het Ruwaan geken.
Ruwaan se ma, Janine Petersen, sê hy was 'n voorbeeldige kind wat liefde in sy hart vir almal rondom hom gehad het.
Ruwaan Kennedy se familie is, van links: Adrian Otto (oom), Anthea Koopman (verloofde), Janine Petersen (ma), Fredricka Otto (ouma) en Andries Otto (oupa). Voor staan Jayden Petersen, Ruwaan se vyfjarige boetie. Foto: Liezl van Niekerk.
"Hy het plek gekry in die polisie en wou graag by die honde-eenheid aansluit. Hy het vir my gesê hy wil graag teen misdaad in die land opstaan. My ma en pa het hom groot gemaak en hy het altyd gesê hy wil hulle so graag terugbetaal wanneer hy eendag 'n regte salaris verdien. Hy was lief vir sy familie, veral sy klein boetie." Christopher Prins (27) het Maandag sy eerste verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof gehad. Hy kom vandag weer voor om regsverteenwoordiging te bekom.
Ruwaan word môre begrawe. Vriende en familie sal 10:00 by die huis in Michealstraat 1048 bymekaarkom waarna die diens om 11:00 by die PPK sal plaasvind.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'