OUDTSHOORN NUUS - Die adjunkminister in die presidensie van die departement van beplanning, monitering en evaluasie, Pinky Kekana, was Donderdag 24 Augustus in Oudtshoorn.
Sy het onder andere leerders van Bridgton Senior Sekondêr toegespreek en, tesame met die organisasie UmuSA, ook skoene aan behoeftige leerders oorhandig.
Later deur die dag het sy met die Oudtshoorn-munisipaliteit se beamptes geskakel.
Kekana het leerders van die skool aange-moedig om hul bes in beide akademie en sport te lewer, want mens weet nooit waarheen jou toekoms jou gaan lei nie. "Nie almal kan dokters of prokureurs of rekenmeesters wees nie. Ons soek sportmanne en -vroue, maar ook polisiemanne en brandweermanne en so aan. En al daai mense sit hier, so konsentreer op jou skoolwerk," het sy gesê.
"Ons weet ook dit is Vrouemaand, maar ons weet waardeur onderwysers gaan op 'n daaglikse basis, veral wanneer jy met behoeftige kinders werk. Daarom het ons besluit, tesame met UmuSA, om as 'n klein gebaar skoene te oorhandig. Ons weet watter uitdagings ons kinders en vrouens in die gesig staar. Ons wil hê ouers en onderwysers moet met die regering saamwerk en die moed hê om hul gemeenskappe te beskerm."
Later die aand by die banketsaal van die Oudtshoorn-munisipaliteit het sy 'n funksie bygewoon waar vroue van Oudtshoorn vereer is, met die gedagte op Vrouemaand.
"Dit was my plesier om die adjunkminister te verwelkom toe sy 'n toesigbesoek aan Oudtshoorn gebring het. Die fokus van haar besoek was op sosiale kwessies en -behoeftes in ons dorp. Ek glo dat ons interaksie wat besoeke aan verskeie terreine ingesluit het, die weg gebaan het vir nouer samewerking met die nasionale regering om kwessies van vroue en kinders in nood aan te spreek," het burgemeester Chris Macpherson gesê.
Volgens Macpherson is die aand se funksie deur Quedene Prins van UmuSA aangebied om vroue te vier en toekennings aan hulle te gee vir hul bydrae tot die gemeenskap. "Ek is weereens herinner aan die krag en toewyding van ons vroue om verandering in hul gemeenskappe te weeg te bring."
Luidens 'n verklaring van die munisipaliteit was die hoofdoel van Kekana se besoek om 'n uitgebreide assessering uit te voer van die ondersteuningstelsels en -programme wat vir slagoffers van mishandeling, veral vroue en kinders, deur Kinderwelsyn Suid-Afrika in Oudtshoorn verskaf word.
In gesprekke tussen Macpherson en Kekana het die burgemeester die belangrikheid van gesamentlike pogings tussen die verskillende sfere van regering beklemtoon. Hy het sy gretigheid uitgespreek vir meer in-diepte besprekings in die toekoms, wat daarop gemik is om pogings tussen plaaslike en nasionale owerhede 'n hupstoot te gee. Hy het daarop gewys dat hierdie vennootskap sal lei tot meer effektiewe benaderings om die uitdagings op hande aan te spreek, volgens die verklaring.
Onder meer is uitdagings rakende infrastruktuurplanne, informele neder-settings, staatstoelaes, die armste wyke asook maatskaplike dienste en skuilings vir vroue en kinders bespreek.
Adjunkminister Kekana, het volgens die verklaring, Oudtshoorn besoek met 'n duidelike doelwit: om maniere te vind om saam met die plaaslike regering te werk en dinge beter te maak.
Verder het Kekana tydens haar besoek die vlakke van ondersteuning wat aan die slagoffers van mishandeling, vroue en kinders verskaf word probeer vasstel, asook die uitdagings te assesseer en te identifiseer wat ingryping van die nasionale regeringsorgane vereis.
Die doel was om die status van diens-lewering binne die munisipaliteit te assesseer en om volhoubare intervensies vir verbeterde implementering te identifiseer. Kekana het, vergesel deur amptenare van die munisipaliteit en verteenwoordigers van Kinderwelsyn Suid-Afrika, 'n deeglike inspeksie gedoen en gesels oor uitdagings en moontlike oplossings. Kinderwelsyn Suid-Afrika, met sy fokus op hulp aan slagoffers van kinder- en vrouemishandeling, bied leiding, ondersteuning en noodsaaklike hulpbronne soos klere, speelgoed en toiletware. Adjunkminister Kekana het die voortgesette pogings van Kinderwelsyn Suid-Afrika in Oudtshoorn geloof en die gemeenskap versoek om by te dra deur skenkings van klere, toiletware en speelgoed vir die kinders by hul kantore in Hoogstraat.
Hierdie samewerkende benadering, tussen die regering en die gemeenskap, versterk die verbintenis om 'n veiliger en meer ondersteunende omgewing vir diegene in nood te skep.
Minister Pinky Kekana (middel) oorhandig skoolskoene aan 'n verteenwoordiger van die Bridgton Senior Sekondêr se leerderraad voordat die skoene aan behoeftige leerders uitgedeel word.
Die leerders van Bridgton Senior Sekondêr het aandagtig na die minister geluister. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’