Update
OUDTSHOORN NUUSFLITS - Natasha Mei, die 31-jarige vrou van Oudtshoorn wat einde Augustus vir dae in 'n huis in Bongolethu aangerand en gemartel is, het die week 'n operasie ondergaan om haar gebreekte kakebeen te herstel.
Volgens haar tannie, Siena Blou, is Mei reeds 'n maand in die hospitaal.
"Ons kon nog nie regtig met haar 'n gesprek voer nie, want daar is 'n verband om haar kop wat verhoed dat sy haar mond oopmaak.
"Sy lê in Oudtshoorn-hospitaal, maar is Sondag weer terug George toe vir die operasie. Die dokter het gesê die operasie was 'n sukses," het Blou gesê.
Volgens haar lyk Mei se gesig ook beter.
"Die swelling het drasties gesak. Sy begin amper weer na haarself lyk, maar dit lyk my die pad na herstel is nog lank. Dit is ook moeilik om aan haar te vat, want haar lyf is nog baie seer."
"Sy het 'n kateter ingehad en ook 'n pypie in haar keel. Sy kon aan die begin glad nie praat of sluk nie en het gesukkel om asem te haal. Sy het ook ontsettend baie kneusplekke aan haar lyf gehad en haar tande is ook uit. Ons probeer nog presies vasstel watter beserings sy opgedoen het."
Blou het verder gesê dat Mei se kinders goed aansterk.
Lees vorige artikels:
• Poging tot moord-klag uitgestel
• Vrou vir dae gemartel en aangerand
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, en aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'