Update
OUDTSHOORN NUUS - Die man (31) wat Sondag tydens die skietvoorval in Uniestraat, Oudtshoorn deur 'n afdiens-polisieman in die maag geskiet is, is steeds in die George-hospitaal.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, wou die man glo die polisieman beroof.
Volgens Sontaga Seisa, waarnemende woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het die polisieman en 'n vriend by 'n kuierplek in Hoogstraat gekuier en hul motor was in Uniestraat, naby die kuierplek, geparkeer.
"Die slagoffer en sy vriende het die polisieman en sy vriend by hul motor beroof. Die polisieman het die vermeende rowers gewaarsku dat hy 'n polisieman is en 'n waarskuwingskoot in die lug geskiet.
"Die slagoffer en sy vriende het hom gejaag waarna hy ses skote geskiet het en een van die skote het die slagoffer in die maag getref. Die polisieman is van sy beursie met kontant, bankkaarte, polisie-ID en polisievuurwapenlisensie beroof.
'Die polisieman se dienspistool waarmee hy geskiet het, is as bewysstuk ingehandig."
Volgens Seisa is daar nie 'n klag van poging tot moord teen die polisieman geopen nie.
Visser sê die polisieman het die voorval na die tyd by die polisie aangemeld.
Die skietslagoffer se ma sê sy is Sondagoggend in kennis gestel dat haar seun geskiet is.
"Ons het dadelik Oudtshoorn-hospitaal toe gegaan, maar hy was reeds op pad George-hospitaal toe. Ons het toe George toe gery. Hy was vier ure in die teater. Die koeël het sy kolon en derms getref."
Kamfer sê sy gee nie om wat mense oor haar seun sê nie, maar hy sal nooit iemand roof nie.
"Daar is gerugte dat hy 'n ganster en 'n drug dealer is. Dit is nie waar nie. Ek het met hom gepraat. Hy sou nie so iets doen nie. Hy het jare lank nie werk gehad nie, hoekom sou hy nou vandat hy 'n werk het skielik iemand roof?
"Hy sorg vir sy drie kleine kinders, vir my en homself met geld wat hy op 'n eerlike manier verdien. Hy is te trots op homself om te roof."
Sy sê sy het tydens die operasie aan-houdend gebid dat haar seun lewendig sal terug kom.
"My kind is 'n tweede kans gegee en daar is 'n rede daarvoor. Ek is seker daarvan dat die waarheid sal seëvier. Niemand dra my kind se lewe in hulle hande nie."
Op navraag of die Oudtshoorn Courant met haar seun oor Sondagoggend se gebeure kan praat, het sy gesê sy wil eers hê dat haar seun sterker moet word.
"Hy is in geweldig baie pyn en ek wil hê hy moet eers aansterk en gesond word, maar die waarheid sál uitkom. My kind sal nie mense roof nie," het sy gesê.
Die identiteit van die polisieman en die gewonde man word nie tans bekend gemaak nie aangesien daar nog geen arrestasies en hofverskynings was nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'