OUDTSHOORN NUUS - Die 41-jarige Adrian Solomons is steeds geskok en verslae ná die brand wat die afgelope naweek die lewens van sy lewensmaat en hul twee jong kinders geëis het.
Petrolene Witbooi (32) en haar kinders, Aden (2) en Akeelah (9), het Vrydagaand tragies in hul opslaanwoning in Smartie Town doodgebrand.
Die opslaanwoning is in die brand geheel en al verwoes, en 'n aangrensende struktuur, wat aan Shamiela Abrahams behoort, het ook afgebrand.
Abrahams het ongedeerd daarvan afgekom. "Ek het alles in die brand verloor en moet nou weer van vooraf begin," het sy gesê.
In gesprek met Solomons het hy vertel dat hy nie tuis was toe die brand uitgebreek het nie. Hy beskryf die verlies as ondenkbaar. "Hulle is op 'n baie wrede manier dood. Sy was 'n lieflike mens en 'n goeie ma wat alles vir haar kinders sou doen. Sy het nie verdien om so te sterf nie."
Familielede beskryf Witbooi as 'n warm en liefdevolle mens wat veral lief was vir sing, met 'n besondere passie vir gospelmusiek. Haar niggie, Nadine May, het vertel dat Akeelah 'n leerder aan Bergsig Primêr was, terwyl Aden die Katolieke Kleuterskool bygewoon het.
"Akeelah was 'n baie stil kind, en Aden was 'n tipiese tweejarige seuntjie vol lewe," het sy gesê. Witbooi was as 'n slagter by CKI in Oudtshoorn werksaam.
Die familie vermoed dat 'n kers moontlik omgeval het en die brand veroorsaak het, maar dit is nog nie bevestig nie.
Die familie wag tans op forensiese DNS-uitslae om die identiteite van die oorledenes amptelik te bevestig.
"Ons kan eers met begrafnisreëlings voortgaan sodra die toetse afgehandel is. Ons is in gesprek met die speurders," het 'n familielid gesê.
Lede van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het die familie ondersteun, en 'n kranslegging het Woensdagmiddag, 28 Januarie, plaasgevind. Witbooi laat buiten Solomons ook haar moeder, drie broers en een suster agter.
Polisie-ondersoek
Adjudant-offisier Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Volgens hom is die brand Vrydagaand, 23 Januarie, omstreeks 22:30 by die polisie aangemeld.
"Noodpersoneel is na die toneel ontbied, waar drie liggame in die puin gevind is. Die Oudtshoorn-polisie ondersoek tans die omstandighede rondom die voorval."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’