OUDTSHOORN NUUS - 'n Tragiese ongeluk in die vroeë ure van Saterdagoggend, 16 Desember, op die Proefplaaspad in Oudtshoorn het die lewens van 'n jong ma en haar 3-jarige seuntjie geëis.
Die presiese omstandighede rondom die ongeluk waarin 23-jarige Loren-Lee Jansen en haar seuntjie Mushan oorlede is, is nog onbekend.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek Oudtshoorn-speurders die omstandighede rondom die ongeluk wat omstreeks 02:30 plaasgevind het.
"Inligting dui daarop dat die polisie na die ongeluk gestuur is waar hulle twee slagoffers buite die voertuig gevind het. Die kleuter en sy ma het veelvuldige beserings opgedoen en is beide op die toneel deur paramedici dood verklaar," het Spies gesê.
Spies het bygevoeg dat 'n dossier vir strafbare manslag oopgemaak is. Niemand is in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’