OUDTSHOORN NUUS - Lorenzo Kruger (29) is vanoggend, 9 Junie, oorlede nadat hy met kanker gediagnoseer is.
Kruger, ’n oudinwoner van Oudtshoorn, het die afgelope ses jaar as onderwyser in Viëtnam gewerk. Sy diagnose het teen die einde van 2025 gevolg ná ’n tydperk waarin hy toenemend siek begin voel het.
Die familie het later ’n fonds gestig om hom uit Viëtnam terug na Suid-Afrika te bring sodat hy die regte behandeling kon ontvang. Hy het in Mei vanjaar in Suid-Afrika aangekom.
Sy suster, Yolandi Kruger, het vroeër vertel dat hy aanvanklik nie besef het hoe ernstig sy toestand is nie. Hy het ’n abses ontwikkel en by verskeie dokters hulp gesoek, maar is telkens slegs medikasie voorgeskryf. Die toestand het egter vererger en sy beweeglikheid begin beperk.
“In Desember 2025 is hy in die hospitaal opgeneem waar hy met fase 3-kanker gediagnoseer is,” het sy gesê.
Yolandi het op sosiale media gesê dat dokters die familie verlede week ingelig het dat die kanker reeds te ver gevorder het, hoewel hulle tot die einde toe aan hoop vasgehou het.
Sy het Dinsdagmiddag aan Oudtshoorn Courant gesê sy is dankbaar dat hy in Suid-Afrika, tussen sy geliefdes, sy laaste asem kon uitblaas.
Lorenzo se dood het diep hartseer in Oudtshoorn en onder familie en vriende veroorsaak.
Reëlings vir die gedenkdiens was teen druktyd nog nie bekend nie.
Lees ook:
Oudtshoorn-onderwyser veg teen kanker in Viëtnam
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’