OUDTSHOORN NUUS - 'n Familie uit Oudtshoorn is tans op 'n missie om hul geliefde terug Suid-Afrika toe te bring nadat hy met fase 3-kanker in Viëtnam gediagnoseer is.
Lorenzo Kruger (29), 'n Oudtshoorn-inwoner wat die afgelope ses jaar as onderwyser in Viëtnam werksaam is, het volgens sy suster, Yolandi Kruger, kort ná hul ma se dood oorsee gaan werk.
Sy vertel dat Lorenzo in 2025 begin siek voel het, maar aanvanklik nie gedink het die toestand is ernstig nie.
"Hy het later 'n abses ontwikkel en was by verskeie dokters, maar het elke keer net medikasie ontvang. Die abses het egter groter geword en uiteindelik sy beweging begin beperk.
"In Desember 2025 is hy in die hospitaal opgeneem waar hy met fase 3-kanker gediagnoseer is."
Dokumente gesteel tydens hospitalisasie
Die situasie is verder bemoeilik toe Lorenzo se persoonlike besittings, insluitend sy paspoort en geld, glo uit die hospitaal gesteel is terwyl hy vir 'n operasie was.
"Hy is heeltemal alleen daar sonder enige ondersteuningsnetwerk."
Sy het op 16 Maart self na Viëtnam gereis om hom te help en om met die Suid-Afrikaanse ambassade te skakel vir 'n noodpaspoort. Die proses het egter uitdagings gebied.
Volgens haar wou owerhede hê Lorenzo moes persoonlik na Hanoi reis om aansoek te doen, iets wat onmoontlik was weens sy verswakte toestand en beperkte mobiliteit.
"Die ambassade het uiteindelik iemand gestuur om te help en die proses het bykans twee weke geneem. Daarna moes ons immigrasie besoek waar verdere probleme ontstaan het omdat al die dokumente in Engels was en ons tolke moes kry om te help. Dit was regtig 'n lang en moeilike proses," vertel sy.
Die owerhede moet tans nog sy visumstatus ondersoek voordat verdere reëlings getref kan word.
Lorenzo Kruger (29) Foto: Verskaf
Te swak vir onmiddellike behandeling
Hoewel Lorenzo intussen uit die hospitaal ontslaan is, is hy uiters swak. Sy immuunstelsel is aangetas, wat beteken dat behandeling nie onmiddellik kan begin nie.
"Die onkoloog het gesê dit is moeilik om nou met behandeling te begin. Ons grootste wens is om hom huis toe te bring sodat hy hier kan aansterk en die regte behandeling kan ontvang."
Sy het gereël dat Lorenzo by 'n vriend tuisgaan. 'n Verpleegster besoek hom daagliks en 'n tolk moes ook gehuur word, alles teen ekstra koste.
"Dit was ongelooflik emosioneel om my broer in so 'n toestand in 'n vreemde land sonder familie te moes agterlaat."
Die familie het ook 'n verdere terugslag beleef nadat Lorenzo en Yolandi se oudste suster, Jeanutta Jacobs, op 19 April na 'n kort siekbed oorlede is.
"Lorenzo het nie die nuus goed gevat nie. Ons het ook ons broer 10 maande terug aan die dood afgestaan."
Gemeenskap gevra om te help
Die familie glo dat die grootste struikelblok oorkom sal wees sodra Lorenzo se dokumentasie gefinaliseer is, maar die uitdaging bly om hom veilig terug Suid-Afrika toe te vervoer.
"Hy is tans te swak om alleen te funksioneer, maar ons glo en vertrou dat alles uiteindelik sal uitwerk," sê Yolandi.
Intussen is 'n befondsingsveldtog begin om die familie te help met die mediese en reisuitgawes om Lorenzo huis toe te bring.
Enigiemand wat wil help kan sy BackaBuddy-veldtog, Help Lorenzo Get Home, besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’