Update
LADISMITH NUUS - Die 7-jarige seun, wie se verkoolde liggaam vroeër die week in ‘n vlak graf in die Hoeko-omgewing gevind, is vermoedelik die van Santino van Wyngaardt. Hy is op 4 April deur sy ma, Shanique, as vermis aangemeld na hy glo by sy pa gaan slaap het.
Shanique sê sy is verpletter oor haar seun se dood en die wreedaardige manier waarop hy van haar weggeneem is.
Shanique en haar ma, Theresa van Wyngaardt, woon op die plaas Balmoral, Hoeko, ongeveer 15 km van Ladismith af.
Volgens haar het Santino op 2 April by sy pa gaan slaap en moes die Sondag huis toe gaan.
“Omdat dit Maandag 4 April ’n skoolvakansiedag was, het ek gedink dat Santino nog by sy pa aangebly het. Ek het sy pa, Llewellyn Gelant, gekontak, maar hy het gesê dat hy Santino nêrens sien nie.” Sy het verder vertel dat sy Maandag voor 12:00 die polisie in Ladismith gekontak het.
“Die polisie het ’n deeglike ondersoek van stapel gestuur wat selfs die nedersetting Zoar ingesluit het.”
Hulle het die oorskot van ’n uitgebrande persoon later op die plaas Hartmansleegte gevind. Volgens haar was die persoon klaarblyklik vermoor en onherkenbaar verbrand en in ’n vlak graf begrawe.
Jerrod Le Roux, prinsipaal van Hoeko Primêr is erg geskok en noem dat hierdie leerders al soos sy eie is.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat die liggaam die van ’n 7-jarige seun is.
Die polisie moet nog die oorsaak van sy dood bepaal en ook DNS-toetse op die liggaam doen om te bepaal of dit wel Santino is.
“Ek hoop regtig dat dit nie my seun is nie,” het Shanique gesê.
Jerrad le Roux, skoolhoof van Hoeko VGK Primêr waar Santino skoolgegaan het, het gesê die leerders is erg getraumatiseerd en dit voel asof hy sy eie kind verloor het.
Daar is ook berading vir die leerders by die skool gereël.Die plek waar die verkoolde liggaam in die vlak graf gevind is.
Lees ook vorige artikel: Seun se verkoolde liggaam in Hoeko gevind
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'