OUDTSHOORN NUUS - Opgeleide lewensredders, wat veronderstel was om verlede Donderdag 'n dienskontrak met die Oudtshoorn-munisipaliteit te onderteken, is met leë hande huis toe nadat onderhandelinge skeefgeloop het.
Volgens 'n navraag wat aan die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, gestuur is het die situasie so onbeheerbaar geraak dat wetstoepassing gekontak is waarna die ontevrede lewensredders die munisipale perseel verlaat het.
Hendricks sê verder in dié verklaring dat die munisipaliteit 'n dienskontrak vir die lewensredders aangebied het nadat die werwing- en keuringsproses afgehandel is.
"Die geselekteerde lewensredders was veronderstel om die dienskontrak te onderteken, maar gedurende die sessie het hulle met teeneise vorendag gekom soos dat hulle meer as die verwagte 40 uur per maand wil werk wat teenstrydig is met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes. Hulle wil ook geraadpleeg word wanneer dit kom by hul skofteskedule sowel as by watter swembad hulle gestasioneer moet word. Plus hulle was ook ongelukkig met sekere punte wat in hul kontrakte gestipuleer is," lui die verklaring.
Een van die lewensredders het in 'n onderhoud met Oudtshoorn Courant gesê dat hul bekommernisse meriete het en dat die situasie vinnig opgelos kan word as die munisipaliteit hul redes kan insien.
"Ons het byvoorbeeld lewensredders wat in Dysselsdorp geplaas is, weg van die huis af, waarmee ons glad nie 'n probleem het nie. Die probleem kom in dat ons lewens in gevaar is daar omdat ons manne al 'n paar keer met die dood gedreig is deur elemente van Dysselsdorp. Die vraag is; gee die munisipaliteit dan nie om vir sy werkers se veiligheid as daar besware is nie? Nou word daar vir jou gesê dat as jy nie tevrede is met jou plasing nie, jy nie kan begin werk nie. "Ons almal het gesinne wat onderhou moet word, so waar trek mens nou die streep? Nog iets wat ons dwars in die krop steek is die feit dat ons opleiding al in Oktober voltooi is, maar steeds is ons nie aangestel nie, maar die kassiere se opleiding was dieselfde week en hulle is sommer die volgende dag aangestel. Is ons werk minder belangrik, ons wat mense se lewens moet red? Na ons mislukte meeting met die munisipaliteit was daar aan ons gesê niemand gaan nou aangestel word nie. Weereens, wat van ons gesinne?"
In die munisipale verklaring van Hendricks bevestig hy dat die aanstelling van kassiere sowel as enige ander aanstellingsbesluite binne die bevoegdheid van die munisipaliteit val.
Die munisipaliteit het Maandag, 13 Oktober bevestig dat al die munisipale-swembaddens gereed is vir die publiek, maar steeds gesluit bly.
Die munisipaliteit het ook beloof dat die kwessies met die lewensredders dringend aandag geniet en sal die publiek op hoogte gehou word van enige verwikkelinge in hierdie verband.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’