OUDTSHOORN NUUS - 'n 41-jarige man is Woensdag in die streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die verkragting van 'n 14-jarige meisie, asook 29 jaar vir verkragting van 'n 15-jarige, seksuele aanranding van 'n 15-jarige asook aanranding van sy 17-jarige seun.
Johannes Jacobs (41), wat al voorheen aan moord en verkragting skuldig bevind is, het die dade met die meisies, almal bekend aan hom, en sy seun by verskillende geleenthede in 2019 gepleeg, maar tot die einde skuld ontken. Hulle het almal saam op een erf in Bridgton gewoon.
Volgens hom was hy nie op die toneel nie alhoewel hy ook deur sy broer op die toneel geplaas is.
Jacobs het sy seun twee keer met 'n mes gesteek omdat hy daarvan verdink is dat hy saam met sy ma slaap. Die meisies is verkrag deur hulle vas te bind of met 'n saag te dreig. Volgens die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, behoort Jacobs permanent uit die gemeenskap geneem te word vir die aaklige misdrywe en omdat hy geen berou toon nie. Al die kinders het hom as 'n vaderfiguur gesien.
Jacobs se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het die hof versoek dat sy vonnisse vir verkragting samelopend uitgedien kan word. Hy het ook aan die korrektiewe beampte gesê dat hy sy straf sal aanvaar. Streeklanddros Daniel Boks het Jacobs se weergawe dat die kinders 'n storie teen hom opgemaak het verwerp en bygevoeg dat hy skandalige, weersinwekkende dade gepleeg het.
"Die slagoffers moet sien dat die hof hul belange beskerm en 'n boodskap moet uitgestuur word dat die sulke gedrag nie geduld kan word nie. Verkragting is vernederend en die verbreking van enigiemand se menswaardigheid."
Jacobs se lys vorige veroordelings is ook verswarend wanneer dit by vonnisoplegging kom.
De beskuldigde is in 1998 aan moord skuldig bevind en sewe jaar tronkstraf opgelê en in 2005 aan verkragting waarvoor hy 10 jaar tronkstraf opgelê is.
"Die kinders het getuig dat hulle baie kwaad is vir wat hy aan hulle gedoen het en hom nooit sal vergewe nie."
Jacobs is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir aanranding om ernstig te beseer, 18 jaar vir verkragting, vyf jaar vir seksuele aanranding en lewenslank vir die verkragting van 'n 14-jarige.
Die hof het gelas dat die 29 jaar tronkstraf samelopend met die lewenslange gevangenisstraf uitgedien kan word en Jacobs se naam ook in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Voorts het die hof gelas dat die kinders berading kry en 'n verslag aan die hof voorgehou moet word.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'