Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Oudtshoorn staar lang tronkstraf in die gesig nadat hy in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind is op drie aanklagte van kinderverkragting, een van seksuele aanranding van 'n minderjarige en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Johannes Jacobs (40) het in 2019 by drie geleenthede twee 14-jarige meisies, verkrag en 'n seksuele daad met 'n derde gepleeg, terwyl hy sy 17-jarige seun twee keer met 'n mes gesteek het.
Jacobs het geslagsgemeenskap met hulle gehad terwyl hy een van hulle se mond met kleefband toegeplak en verkrag het.
In die ander voorval het hy een van hulle gedwing om haar te ontklee, op die vloer te lê en haar bene oop te maak. Sy het egter daarin geslaag om uit sy kamertjie te hardloop terwyl hy vir sy broer geskree het om haar te vang. Hy het alles ontken.
Oor die klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer het sy seun getuig dat hy sy pa, wat nie saam met hom en sy ma woon nie, die aand van 3 Oktober 2019 te Karoo Valley Farms gevra het om sy hare te sny.
Sy pa het hom na die toilet geneem en sy hare met 'n lemmetjie begin skeer. Kort daarna het hy 'n broodmes uitgehaal en hom een keer onderkant sy oor en een keer agter sy nek gesteek.
Hy het sy ma geroep en toe sy die deur ooptrap het hy uitgehardloop.
Jacobs het die gebeure ontken en getuig dat sy seun beseer kon gewees het toe drie mans hom glo met 'n panga aangeval het.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het betoog dat die kinders nie rede gehad het om Jacobs valslik te beskuldig nie en vir sy skuldigbevinding op al die klagtes gevra.
Streeklanddros Daniel Boks het Jacobs se weergawe dat die kinders 'n storie teen hom opgemaak het verwerp omdat die kinders sowel as sy eie broer hom op die toneel geplaas het.
Die meisies het kronologiese uiteensettings van gebeure gegee en is as betroubare getuies bevind.
Jacobs is al by 'n vorige geleentheid ook aan verkragting skuldig bevind en tronkstraf van tien jaar opgelê. Hy het aanvanklik van die vonnisse ontken, maar tog later na 'n gesprek met sy regsverteenwoordiger sy deuntjie verander
Vonnisverrigtinge is op versoek van sy regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, vir 'n korrektiewe verslag uitgestel tot 17 Maart.
Vorige artikel: Swaar vonnis kinderverkagter se voorland
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'