OUDTSHOORN NUUS - Daar is 'n hele aantal grondpaaie rondom Oudtshoorn wat ideale bergfietsroetes is.
Hier is vier van die mees toeganklikes wat wissel van 30 tot byna 100km.
Die kerkiepad (ongeveer 30km)
Begin by Smitswinkel in Langenhovenweg en volg die pad in die rigting van die Kango-grotte reg deur die dorp.
Draai links in Noordstraat by Kleinplaas-vakansieoord.
Ry oor die rivier en draai regs by die tweede stopstraat waar die skoolterrein ophou.
Na sowat 'n kilometer word dit 'n grondpad wat tot by die NG Kerk, Schoemanshoek, lei.
Draai by die kerk om en volg dieselfde pad terug. Dit is 'n redelike maklike roete met enkele kort bultjies.
Lategansvlei sirkelroete (ongeveer 45km)
Begin by Smitswinkel in Langenhovenweg in die rigting van die Kango-grotte.
Draai links in Voortrekkerweg by die burgersentrum en volg die pad uit die dorp uit in die rigting van Calitzdorp.
Wees op die uitkyk vir die Lategansvlei-afdraaipad na regs ongeveer 3km buite die dorp.
Volg hierdie grondpad tot by die eerste grondpad wat links draai.
Ry oor die laagwaterbrug en draai weer links op die bultjie.
Volg die pad tot waar dit die teerpad kruis. (Wees versigtig vir vinnige verkeer op die hoofpad.)
Kruis die hoofpad en volg die teerpad verby die ou pastorie en die De Hoop kerk tot waar die pad met die sementpad aansluit.
Draai links op die sementpad, ry oor die bruggie en draai regs in die eerste grondpad na die bruggie.
Volg die grondpad verby Grundheim-wyne en kruis die teerpad na Volmoed.
Volg die grondpad verder verby De Zeekoe-gasteplaas tot waar dit by die hoofpad tussen Mosselbaai en Oudtshoorn aansluit.
Draai links met die teerpad en volg dit vir ongeveer 'n kilometer tot by die Safari volstruis-plaas. (Wees versigtig vir vinnige verkeer en swaar voertuie op dié kort gedeelte van die hoofpad.)
Draai regs by Safari en volg die teerpad tot waar dit die treinspoor kruis en die eerste huise in Oudtshoorn begin.
Draai direk na die treinspoor regs in Rademeyerstraat.
Ry oor die rivier en draai by die stopstraat links in Langenhovenstraat tot by Smitswinkel.
Die roete is nie moeilik nie met 'n aantal klein bultjies en een lang bult op die eerste gedeelte van die grondpad.
Proefplaasroetes (Twee roetes van ongeveer 45km en 65km)
Begin by Smitswinkel en ry oor die brug in die rigting van George.
Draai links direk na die brug by die diesel-depot en ry verby die vervalle stasiegebou.
Volg die pad oor 'n laagwaterbruggie en draai 'n ent verder regs met die eerste teerpad by die proefplaas bordjie.
Volg die pad verby die proefplaas waar dit 'n grondpad word en haal diep asem en drink water om voor te berei vir Spookbult wat 'n paar kilometer lank is.
Draai links bo-op Spookbult en skep asem teen 'n lang afdraande af, oor 'n kort bultjie tot by 'n kruispad.
By die kruising kan jy kies tussen die 45km en 65km roete.
45km
Draai links by die kruispad en volg die grondpad tussen die plase deur totdat dit weer 'n teerpad word.
Die teerpad lei verby die afdraaipad na die proefplaas, verby die stasie en terug tot by Smitswinkel.
65km
Hou reguit by die kruising en ry verby die Kammanassiedam aan jou regterkant.
Spook teen 'n steil bult uit en sak anderkant af tot by Dysselsdorp.
Draai na die eerste paar huise in Dysselsdorp links met die eerste grondpad.
Volg die grondpad, wat redelik gelyk is tot by die eerste grondpad wat weer links draai en draai links. (As jy die afdraaipad misry sal jy oor die rivier ry en sowat twee km verder by die hoofpad De Rust toe uitkom.
Moenie die hoofpad neem nie - dit is lewensgevaarlik vir fietse - draai om en ry terug tot by die afdraaipad wat jy gemis het.)
Volg die afdraaipad totdat dit 'n ent van die stasie af weer by die teerpad aansluit en ry terug tot by Smitswinkel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'