OUDTSHOORN NUUS - "Oudtshoorn kan omskep word in die kunstehoofstad van die provinsie."
Hierdie opmerking, wat 'n sakeman Woensdag tydens 'n gesprek met die Oudtshoorn Courant gemaak het, is Woensdagaand deur 'n onverwante gebeurtenis versterk.
Die nuutgestigte Kunstevriende van Oudtshoorn het Woensdagaand hulle eerste proeflopie met musiek en voorlesings van kortverhale gehou.
Ongeveer 100 gaste het die optrede van die akteur en stemkunstenaar Paul Eilers, pianis Erina Terblanche en solis Marinda Botha-Schutte by die Ostrich Emporium bygewoon.
Vroeër die dag was die Oudtshoorn Courant in 'n gesprek met die sakeman Jaco Vorster, oor die moontlikheid om 'n gespreksessie oor 'n bekende digter in Oudtshoorn aan te bied.
Tydens daardie gesprek is na die verskillende aanbiedings in Oudtshoorn verwys en daar is genoem dat Oudtshoorn oor al die infrastruktuur beskik om verskeie kunsverwante projekte aan te bied.
"Kyk hoe goed word die verhoogstukke en ander produksies van die KKNK ondersteun. Mense het 'n behoefte aan die kunste en ons dorp het alles tot ons beskikking om daardie behoefte te vul."
Vorster staan aan die stuur van die Oudtshoorn-besigheidskamer se Ek is Oudtshoorn-inisiatief.
Kunstevriende
Met die aanbieding van die Kunstevriende van Oudtshoorn Woensdagaand is die behoefte van inwoners om aan kuns en kultuur blootgestel te word bevestig. Volgens Annelize Vlok, een van die Kunstevriende, is dit die nuwe weergawe van die ou musiekvereniging wat vroeër jare op Oudtshoorn was en deur Nic Barrow bestuur was.
"Ons wil bietjie lewe in die kunste van Oudtshoorn blaas. Ons fokus dus nie meer net op musiek nie, maar ook op digkuns, skilderkuns en die ander kunste wat tussen ons inwoners skuil," het sy verduidelik.
Sy het Woensdagaand gesê hulle sal hulle program so reël dat aanbiedings nie met die KKNK of Klein Karoo Klassique bots of inmeng nie, maar dit eerder aanvul.
Danie Bester, ook 'n Kunstevriend, het Woensdagaand tydens sy verwelkoming van gaste, gesê hy dink dit was dalk destyds 'n fout van die musiekvereniging om net op klassieke musiek te konsentreer. "Dit is nie die musieksmaak van die meeste mense nie en ons wil iets aanbied waarby 'n groter spektrum mense byval vind."
Johan Breunissen wat ook by die Kunstevriende betrokke is, het gesê hulle oorweeg selfs kookkunsdemonstrasies deur bekendes in die land. "Ons wil 'n groot verskeidenheid kunstenaars nooi en sodoende inwoners blootstel aan verskillende kunsvorme."
Paul Eilers lees een van Chris Barnard se kortverhale voor tydens Woensdagaand se aanbieding van die Kunstevriende van Oudtshoorn in die Ostrich Emporium. Foto's: Hannes Visser
Veranderende KKNK
Na afloop van vanjaar se KKNK was daar twee kante van die feesmunt. Aan die een kant was die nuwe Kuierbuurt volgens alle aanduidings baie gewild en 'n groot aantal mense het gevoel die kleiner, kompakter terrein het beter gewerk as die vorige groter terreine. Kaartjieverkope vir die verskillende produksies was glo ook uitstekend.
Die ander kant van die munt is egter die "ontvolking" van Baron van Reedestraat as gevolg van die nuwe Kuierbuurt in Vredestraat. Besighede en uitstallers in Baron van Reedstraat tussen die Queens-hotel en Kerkstraat het 'n duidelike afname in voete ondervind. In reaksie hierop het verskeie besighede gevra dat daar opnuut gekyk moet word na die formaat van die fees en die feesterrein.
"Die fees verander en ons sal saam met hom moet verander en kreatief begin dink oor hoe ons vorentoe moet beplan om deel te wees," het een van hulle verlede week gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'