OUDTSHOORN NUUS - Kunste Onbeperk se nuwe voorsitter, Christo van der Rheede is tydens die KKNK se algemene jaarvergadering verlede Vrydag, 15 November, verkies.
Dié aankondiging is deur die uittredende voorsitter, Crispin Sonn, by Die Neelsie in Oudtshoorn gemaak. Olga Wyngaard is as visevoorsitter aangekondig.
Beide Sonn en Ismail Mahomed se termyne het verstryk.
Charlene Lackay, bekend vir haar werk in die media- en kreatiewe-industrie is tans werksaam in kommunikasie en korporatiewe volhoubaarheid en Cristal Peterson, 'n boorling van Mosselbaai en bemarkingsdirekteur by die Universiteit Stellenbosch met 'n passie vir die bevordering van die kunste in veral hoër onderwys, het in September 2024 by die direksie aangesluit.
Johan Allers, burgemeester van Oudts-hoorn-munisipaliteit, is soos vorige burge-meesters, ex-officio-verteenwoordiger namens die Oudtshoorn-gemeenskap in die direksie.
Wie is Van der Rheede?
Hy is tans uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting en was van Oktober 2020 tot September 2023 die uitvoerende hoof van Agri SA, nadat hy in 2015 as adjunkdirekteur hier aangestel is. Hy is sedert Oktober 2023 die adjunkprofessor van die Universiteit van die Vrystaat se besigheidskool, dien op die direksie van die ATKV en is 'n voormalige skoolhoof en onderwyser. Van der Rheede dien ook sedert November 2022 op die direksie van Kunste Onbeperk.
"Dit is 'n besondere voorreg om as voorsitter aangewys te word. Na jare se betrokkenheid, eers as komiteelid, later as lid van die direksie en nou as voorsitter, sien ek daarna uit om voort te bou op die ongelooflike nalatenskap van my voorganger, Crispin Sonn, uittredende direksielede en die personeel, onder die bekwame leiding van Hugo Theart," sê Van der Rheede.
Hy sê verder dat die KKNK nog altyd vir hom baie meer as net 'n kunstefees is. "Dit is die somtotaal van kunssinnigheid, kreatiwiteit, artistieke uitmuntendheid, estetika, konstruktiewe debat, inklusiewe ekonomiese- en mense-ontwikkeling, welvaartskepping, nasiebou en plesierige samesyn. Ons is dankbaar teenoor die inwoners van Oudtshoorn wat ons toelaat om die fees jaarliks op die dorp te hou. Ons opregte waardering aan alle liefhebbers van die kunste wat die fees jaarliks besoek en al die borge wat die fees mildelik ondersteun. Dit is julle fees. Help ons om nuwe geleent-hede te ontsluit, die fees volhoubaar te bedryf en om Suid-Afrika in sy diversiteit te verenig – deur middel van die skeppende kunste in Afrikaans."
Crispin Sonn
Sonn het tydens sy uittrede gesê hy is dankbaar vir dit wat hulle as direksie oor die afgelope sewe jaar van sy termyn vermag het, asook vir die mense wat hy oor dié tydperk ontmoet het.
"Ek weet dat Christo en sy nuwe direksie die KKNK en Kunste Onbeperk se projekte na nuwe hoogtes gaan neem. Oor die afgelope sewe jaar het ek baie van Hugo en sy kollegas geleer en ons het met die direksie saamgewerk om prosesse in plek te sit wat die masjien net beter laat werk."
Nuwe direksie
Die direksie van Kunste Onbeperk vir die komende termyn is: Christo van der Rheede (voorsitter), Olga Wyngaard (visevoorsitter), Charlene Lackay, Cristal Peterson, Johan Allers, Denver Moses (verteenwoordiger van die Wes-Kaapse regering), Theresa Olivier (verteenwoordiger van Media24), Mariné van Brakel (onafhanklike nie-uitvoerende direkteur) en Hugo Theart (uitvoerende hoof en artistieke uitvoerende direkteur).
Vorige artikels:
- Bekroonde kunstenaar nuwe KKNK Kurator
- Visie agter Tuinroete Kunste- en Kultuurnetwerk aan rolspelers verduidelik
- Kunste en kultuurnetwerk op pad
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’