OUDTSHOORN NUUS - Alfonzo Malgas (26) wat op Kersfees-aand 2016 'n jong man in Face da Bass-nagklub doodgesteek en aan moord skuldig bevind is, is Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur.
Streeklanddros Retha Pretorius, het met vonnisoplegging gesê dat sy geen wesenlike of dwingende omstandighede kon vind om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis vir moord nie.
Malgas het onskuldig gepleit en aangevoer dat hy deur 'n groep van sowat agt mans, waaronder 19-jarige Adrian Oliphant aangeval is en hy twee keer blindelings na hulle gesteek het.
Hy was nie seker of hy iemand raakgesteek het nie.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof vir 'n lang vonnis gevra omdat 'n ligte vonnis daartoe kan lei dat die publiek vertroue in die howe kan verloor en die reg in eie hande neem. Die oorledene was 'n belowende student aan die Suid-Kaapse Kollege.
Die enigste genade wat die hof aan Malgas kan toon is om hom nie langer as die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar tronk toe te stuur nie.
Volgens Malgas se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, is hy nie 'n gewelddadige persoon nie en was die betrokke voorval 'n geïsoleerde een. Hy het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis omdat die beskuldigde redelik jonk is en 'n eerste oortreder is wat geweldsmisdade betref.
Volgens die landdros het Malgas 'n jong man, wat ongewapen was, van sy lewe ontneem.
"Elke persoon het die reg om te lewe en die familie van die oorledene sukkel steeds om sy dood te aanvaar en verwerk. Die beskuldigde het nie die hof in sy vertroue geneem en self in die saak getuig nie," het die landdros gesê. Volgens haar het Malgas die doel gehad om Oliphant te vermoor deur hom tien keer met 'n mes te steek en dat van die steekwonde volgens 'n mediese verslag met oormatige geweld toegepas is.
- Malgas is in Desember verlede jaar vir die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen in hegtenis geneem. Dit terwyl die moordsaak van Oliphant steeds in die hof was. Die vuurwapen wat Malgas in sy besit gehad het, is vir ballistiese toetse weggestuur sodat daar bevestig kan word of die wapen in 'n misdryf gebruik is.
Die Oudtshoorn Courant het inligting ontvang dat Malgas familie is van Ephrahim Malgas, een van die verdagtes wat vir die moord van Justin Booysen in hegtenis geneem is. Booysen is einde November in sy huis in Rosebank doodgeskiet. Alfonzo verskyn weer op 11 Februarie in die hof vir die vuurwapen-klag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'