OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie het Sondagaand vier persone in Rosebank in hegtenis geneem vir die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die polisie op inligting van die publiek gereageer en 'n huis deursoek waar 'n .38-rewolwer met rondtes gevind is.
Alfonzo Malgas het op 3 Desember op die klag in dié hof verskyn. Die ander drie verdagtes is weens 'n gebrek aan getuienis vrygelaat.
"Die vuurwapen is nie as gesteel aangemeld nie en daar word ondersoek aan wie die vuurwapen behoort en hoe die wapen in besit van persone gekom het wat nie 'n lisensie daarvoor het nie."
Die wapen is vir ballistiese toetse weggestuur en kan op die stadium nog nie aan 'n misdryf verbind word nie.
Die Oudtshoorn Courant het inligting ontvang dat Malgas familie is van Efrahim Malgas, een van die verdagtes wat vir die moord van Justin Booysen in hegtenis geneem is. Booysen is einde November in sy huis in Rosebank doodgeskiet.
Alfonzo is gister (Donderdag) skuldig bevind op die moord van die 19-jarige Adrian Oliphant. Oliphant is op Kersdag 2016 in 'n kuierplek op Oudtshoorn doodgesteek. Die vuurwapensaak is tot 11 Desember uitgestel.
Brig. Levona Januari, Oudtshoorn se stasiebevelvoerder, het haar dankbaarheid uitgespreek vir die publiek se inligting en die beamptes wat vining gereageer het en op die wapen beslag gelê het.
"Vuurwapens in die verkeerde hande is gevaarlik en word gebruik op misdaad te pleeg. Ons is dankbaar hierdie wapen is van die strate af en nie meer 'n gevaar vir enige persoon nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'