OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot groep familie en inwoners het Donderdag 10 Julie 'n kranslegging vir wyle Nadia Goliath (36) gehou.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het die geleentheid gebruik om 'n sterk boodskap aan die gemeenskap oor te dra. Leon Campher het veral gepraat oor jong mans en selfs meisies wat met messe rondloop.
"Los jul messe by die huis, jy eet nie in die straat nie."
Phillip Seroux, voorsitter, Oudtshoorn-gemeenskaps-polisiëringsforums (GPF) het gesels oor misdaad in die woonbuurt. Hy was vergesel van ao. Bouwers van Bongolethu-polisie.
Verrigtinge het begin met 'n plaaslike blaasorkes wat 'n spesiale lied vir Nadia gespeel het. Sy was bevriend met die groep jongmense. Na afloop van die onderskeie toesprake en bemoediging aan die familie is die krans voor haar houtstruktuur in die Bobby Le Roux-kamp in Toekomsrus opgehang.
Goliath is op 20 Junie bewusteloos met 'n erg geswelde gesig in haar houtstruktuur gevind. Sy is na Oudtshoorn-hospitaal geneem waar sy later in ongevalle gesterf het.
Volgens haar familie is geen nuwe inligting rakende die oorsaak van haar dood bekend nie.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’