OUDTSHOORN NUUS - Familie van wyle Nadia Goliath (36) soek antwoorde na haar dood op 20 Junie toe sy bewusteloos met 'n erg geswelde gesig in haar houtstruktuur in Bobby le Roux-kamp gevind. Sy is na Oudtshoorn-hospitaal geneem waar sy later in ongevalle gesterf het.
Buiten die besering op haar agterkop, was hulle geskok om te sien hoeveel beserings sy opgedoen het. Volgens Desleen Campher, was die regterkant van haar susters se gesig erg geswel toe sy gevind is.
"Iets het my bly pla, Nadia was heeltyd in my kop, ek kon nie slaap nie."
Volgens haar is daar eenvoudig vir hulle as familie gesê dat sy aan natuurlike oorsake en 'n infeksie aan haar gesig gesterf het en 'n nadoodse ondersoek nie nodig is nie.
"Dit het vir my net nie reg geklink nie, bloeding op die brein? Toe ons haar gaan aantrek vir die begrafnis het ek dadelik beserings op my suster se liggaam opgemerk en besef dat die begrafnis gestop moet word."
Die familie het aangedring op 'n volledige nadoodse ondersoek, en met die hulp van Leon Campher, wat aangetroude familie is, het hulle Dinsdag 8 Julie bevestiging ontvang dat 'n nadoodse ondersoek op Woensdag 9 Julie gedoen sal word.
"Ons wag vir die uitslag van die ondersoek waarna ons begrafnisreëlings sal tref, maar indien my suster se dood nie natuurlik was nie, moet geregtigheid geskied."
Goliath laat buiten haar ma, Sandra, twee susters en drie broers, asook vyf kinders, waaronder 'n nege maande oue baba agter. Haar kinders, Venisha (21), Iwayne (17), Mac conan (4), Cayden (4) en Sonique (9 maande) is tans in die sorg van Goliath se familie.
Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) hou vandag, Donderdag 10 Julie, 'n kranslegging vir Goliath by haar struktuur in die Bobby Le Roux-kamp in Toekomsrus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’