OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn het tot24Mei geleentheid om insette te lewer op die konsepbegroting wat verlede week goedgekeur is.
Volgens die konsepbegroting word die volgende tariefverhogings vir 2027/27 ingestel:
- Eiendomsbelasting - 5%,
- Vullisverwydering, riolering en water styg elk met 3,7%
- Kragtariewe styg met 9,5%.
Die voorgestelde tariefverhogings vir die volgende twee finansiële jare (2027/28 en 2028/29) word ook in die konsepbegroting aangedui. Daarvolgens verhoog eiendomsbelasting, riolering, vullisverwydering en water met 6% en elektrisiteit met 9% elke jaar.
Dié tariefverhogings, wat daarop gemik is om finansiële volhoubaarheid in die munisipaliteit te verseker, kom te midde van brandstofpryse wat drasties verhoog en lewenskoste wat vir talle gesinne uiters uitdagend raak.
Die konsepbegroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan word tans deur middel van burgemeesters-imbizo's in elke wyk aan die gemeenskap voorgelê. Tydens hierdie imbizo's, kry inwoners geleentheid om hulself van die konsepbegroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan te vergewis en insette te lewer.
Tydens die vergaderings sal daar ook aan inwoners verduidelik word hoe skriftelike besware of voorstelle oor die begroting ingedien kan word.
Na afloop van die deelnameproses het die munisipaliteit geleentheid om inwoners se insette te oorweeg voordat die finale begroting opgestel en goedgekeur word.
Alle munisipaliteite se finale begrotings vir 2026/27 moet voor of op 30 Junie deur die raad goedgekeur word aangesien die nuwe finansiële jaar op 1 Julie begin.
Die openbare deelnameproses het reeds op Sondag 12 April begin.
Die volgende vergaderings vind nog plaas en inwoners word aangemoedig om hulle by te woon:
- Donderdag 16 April 18:00 - Bridgton-sportterrein se konferensiekamer (wyk 5)
- Sondag 19 April 15:00 - Lategansvlei Pentecostal-kerksaal (wyk 2)
- Maandag 20 April 18;00 - Tusongsentrum (wyk 4 en 8)
- Dinsdag 21 April 18:00 - Protea Hotel-saal (wyk 7 en 13)
- Woensdag 22 April 18-00 - Banketsaal by burgersentrum (wyk 1,2,3 en 7)
- Donderdag 23 April 18:00 - Rosevalley-biblioteek (wyk 12)
- Sondag 26 April 15:00 - Welbedacht UCC-saal (wyk 12)
- Dinsdag 28 April 18:00 - Laerskool Volmoed (wyk 2)
- Sondag 3 Mei 15:00 - Grootkraal Primêr (wyk 11)
- Sondag 10 Mei 15:00 - Rodewal UCC-saal (wyk 9)
- Sondag 17 Mei 15:00 - Rooiheuwel Primêr (wyk 12)
- Sondag 24 Mei 15:00 - Stolsvlakte-kerksaal (wyk 9)
Inwoners wat nie die vergaderings kan bywoon nie, kan steeds hul kommentaar en insette via die munisipaliteit se Facebook-blad of per e-pos aan [email protected] of [email protected] binne 21 werksdae vanaf die aanvang van die vergaderings indien.
Vir navrae kan inwoners Thembeka Gunguluza by 044 203 3977 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’