Update
PRINS ALBERT NUUS - Sedert die filmmaker, kinematograaf, regisseur en draaiboekskrywer Koos Roets sy eerste film in 1970 vervaardig het, het die Suid-Afrikaanse filmtegnologie verstommend vooruitgegaan en die Suid-Afrikaanse akteurstalent geblom.
Tog wens hy daar word méér uitmuntende draaiboeke vir vollengtefilms geskryf.
So het Roets die afgelope naweek tydens die filmfees in Prins Albert gesê.
Elf van Roets se films is tydens die naweek se filmfees vertoon.
Die fees is ook bygewoon deur Katinka Heyns, saam met wie hy 'n hele aantal films vervaardig het, en haar seun, Simon Barnard, wie se dokumentêr oor Roets se lewe en loopbaan Vrydagaand vertoon is.
Roets se belangstelling in die filmbedryf het al as klein seuntjie begin "toe kameras so groot was, 'n kind kon binne-in pas. Oor die afgelope sestig jaar het baie dinge verander … tot nou, waar alles digitaal gedoen word."
Roets het enorme tegnologiese ontwikkelinge meegemaak, maar het saam met van die land se voorste filmmakers sy tande geslyp. Daar was mense soos die legendariese filmmakers Jamie Uys en Emil Nofal, die regisseurs Jans Rautenbach, en nog later Katinka Heyns.
Hy het bekende buitelanders op die stel ervaar, soos die sanger Jim Reeves in Kimberley Jim in 1963 en die pianis Liberace in Vlug van die Seemeeu in 1972. "Seemeeu was die tweede film wat ek gemaak het en waaroor Rapport se Coenie Slabber geskryf het 'die seemeeu moes liewer maar gevlug het'."
"In dié film het Liberace kosteloos opgetree, in ruil vir 'n leeuvel. Dis nou nadat 'n klank sinchronisasie kabel hom per ongeluk van sy klavierstoeltjie af geruk het, en Liberace se enigste droë kommentaar was: 'I need the practice'."
Oor sy heel eerste poging, Erfgenaam (1970), het hy laggend vertel hy wil maar liewer wegkyk. Die fliek se begroting was R24 000.
Roets, wat in Januarie aan 'n splinternuwe film begin werk, sal egter onthou word vir sy betrokkenheid by van die mees ikoniese Afrikaanse films: Sersant en die Tiger Moth, Wonderwerker, Die storie van Klara Viljee, Paljas, Abraham en Faan se trein.
Roets het ook die talentontwikkeling van vele van Suid-Afrika se voorste akteurs beleef, van hul eerste versigtige tree op stel, tot nou - sommige steeds in die bedryf en ander al oorlede. Oor elke film, of oor die akteurs en skoonheidskoninginne met wie hy saamgewerk het, het Roets iets interessants te vertel. Vir Roets en Heyns het die flilmfees ook 'n vonds ingesluit: Onder die filmmateriaal van die argief van 'n teater in Johannesburg wat onlangs gesluit het, en wat in Prins Albert aan hulle oorhandig is vir veilige bewaring, het hulle afgekom op die oorspronklike 35 mm-film van Fiela se kind, waarna hulle reeds jare gesoek het.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'