PRINS ALBERT NUUS - Die Koos Roets-fliekfees in Prins Albert gaan hierdie naweek voort.
Marelize Vorster, bestuurder van die teater, The Showroom in Kerkstraat, het bevestig dat die fees steeds gehou word, mét alle Covid-19-maatreëls van toepassing.
"Al die regte reëlings wat op byeenkomste van toepassing is, is in plek. Ons gaan dus voort. Ons het plek vir besoekers wat net instap, maar ons moedig ook kaartjie-aankope vooraf aan."
Oudtshoorn Courant het navraag gedoen nadat president Cyril Ramaphosa Maandagaand strenger inperkingsmaatreëls aangekondig het ná 'n tweede Covid-19-infeksievlaag in die land, veral die Suid-Kaap, Tuinroete en Oos-Kaap.
Van die maatreëls sluit in 'n aandklokreël wat elke aand om 22:00 in werking tree, dat nie meer as 100 mense 'n byeenkoms binnenshuis mag bywoon nie, dat nie meer as 50% van 'n saal of groot vertrek se kapasiteit gevul mag word nie en dat daar goeie ventilasie moet wees. Dit alles sal gevolg word, sê Vorster.
Die laaste film van elke dag begin om 20:00, wat sal verseker dat gaste voor tienuur tuis kan wees. Die teater het 140 stoele, waarvan net die helfte per film gevul sal word.
The Showroom is ook toegerus met 'n moderne lugversorgingstelsel.
Roets open die verrigtinge Vrydag om 18:00 tydens 'n verwelkomingsgeleentheid.
Daarna word 'n dokumentêr oor Roets se lewe en loopbaan as kameraman, regisseur en filmmaker sedert 1962 vertoon, vervaardig deur Simon Barnard, seun van die filmmaker en aktrise Katinka Heyns en die skrywer, wyle Chris Barnard. Heyns sal ook die aand bywoon.
Die naweek dien ook as 'n viering van Roets se 78ste verjaarsdag in Januarie.
Die film wat Vrydagaand vertoon word, is Faan se trein wat as een van Roets se hoogtepunte in die filmbedryf beskou word.
Die vertonings begin Saterdagoggend om 10:00 met Vlug van die seemeeu, gevolg deur Die sersant en die Tiger Moth, Kootjie Emmer, Nag van die negentiende en Abraham. Sondag word Hoener met die rooi skoene, Die wonderwerker, Die erfgenaam, Die storie van Klara Viljee en Paljas vertoon.
Dag- en naweekpasse is beskikbaar, maar kaartjies vir enkelvertonings kan ook gekoop word.
Besoek die webblad www.showroomtheatre.co.za of skakel 023 541 1563 vir meer inligting.
Verwante artikel: Koos Roets in Desember vereer
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'