OUDTSHOORN NUUS - Jossie Neetling, ’n grondslagfase-onderwyseres by Laerskool Laurus in Oudtshoorn het die afgelope week die skool by die CTLI (Cape Town Learning Institute) verteenwoordig.
Sy het waardevolle kennis en nuwe vaardighede opgedoen rondom kodering en robotika, asook hoe om dit suksesvol en sinvol binne die grondslagfase te implementeer.
Sy verduidelik dat die kursus deel vorm van die Wes-Kaapse departement van onderwys se voortgesette professionele ontwikkeling van onderwysers.
“Die opleiding het gefokus op die integrasie van kodering, robotika en digitale konsepte. Hierdie CAPS benadering in die grondslagfase fokus daarop om probleemoplossing, kritiese denke en digitale geletterdheid in die grondslagfase-klaskamer te bevorder.”
Sy is verantwoordelik om die kennis en vaardighede wat sy tydens die opleiding opgedoen het te gebruik om skole in Oudtshoorn se onderwysers te ondersteun en te begelei in die effektiewe aanbieding van kodering en robotika.
Hierdie inisiatief dra by tot die voorbereiding van jong leerders vir ’n tegnologiegedrewe toekoms en bevorder innoverende leerpraktyke in plaaslike skole.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’