OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK het die grondslag vir die Afrikaanse Renaissance gelê. So sê Christo van der Rheede, nuwe voorsitter van Kunste Onbeperk, die organisasie wat jaarliks die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn aanbied.
"Die Renaissance was ‘n baie opwindende tydperk in Europa se geskiedenis en as ‘n mens kyk na wat die woord Renaissance beteken, kan jy sommer raai dat dit die begin van groot dinge was. Dit staan ook bekend as die bloeitydperk van die kunstenaar. Die woord Renaissance kom van die Franse woord renaitre en beteken ‘hergeboorte’ (letterlik weer gebore).
Aan my voorganger, Crispen Sonn en die direksie, Hugo en sy span, dankie vir stewige grondslag wat julle gelê het vir die Afrikaanse Renaissance. As die nuwe voorsitter en nuwe direksielede het ons groot skoene om vol te staan."
Volgens Van der Rheede was een van Oudtshoorn se groot musiek maestro’s, John Theodore, op 'n tyd sy klavier-leermeester. So ook wyle Moira Wicomb- Kivedo, wat vir hom sanglesse aangebied het, Johan Buys, Annamarie Janse van Rensburg, ’n Suid Afrikaanse kontemporêre kunstenaar, en vele andere, almal van hierdie omgewing.
"Dit is 'n geslag wat ‘n groot indruk op ons almal se lewe gemaak het en ons moet vir hulle hulde bring. Volgens Van der Rheede is die groot vraag, Wie gaan by hulle oorneem?
"Die KKNK is die platform om die jong mense van veral Oudtshoorn se talent te ontwikkel en om die Afrikaanse Renaissance nuwe momentum te gee. Kom ons loop die pad saam om die KKNK se volhoubaarheid te bedryf en 'n helder toekoms vir al ons jong kunstenaars te bied."
Vorige artikels:
- Kunste onbeperk kondig nuwe voorsitter aan
- Bekroonde kunstenaar nuwe KKNK Kurator
- Visie agter Tuinroete Kunste- en Kultuurnetwerk aan rolspelers verduidelik
- Kunste en kultuurnetwerk op pad
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’