Update
OUDTSHOORN NUUS - Groot opgewondenheid heers by die Buffelsdrift Game lodge buite die dorp oor 'n jagluiperdprojek.
Die projek is verlede Dinsdag aan gastehuiseienaars en mense in die toerismebedryf bekendgestel.
Volgens die besturende direkteur, Andries van Schalkwyk, is die jagluiperdprojek nog 'n uitvloeisel van die Buffelsdrift Foundation wat op bewaring fokus.
Buffelsdrift het reeds in 2018 ook met 'n leeuprojek begin toe twee leeus aan hulle toevertrou is. Van Schalkwyk het Dinsdagoggend verduidelik dat die oord op 'n stadium 'n bydrae gelewer het om radiosenders aan te skaf vir 'n olifantprojek in Namibië.
"Ons het kontak gemaak met dr. Willem van der Merwe van die Endangered Wildlife Trust en dit het later gelei tot die besluit om ook jagluiperds na die plaas te bring." Volgens hom is 'n aangrensende plaas gekoop om die jagluiperds genoeg ruimte te gee om vrylik rond te beweeg.
"Ons het aanvanklik twee mannetjies gekry en na ses maande ook 'n wyfie. Die mannetjies is verskuif en die wyfie het kort daarna 'n maat gekry wat ongelukkig 'n poot gebreek het en uitgesit moes word."
Van Schalkwyk sê egter hulle was gelukkig om gou weer 'n maat vir die wyfie te kry wat verlede week nog in kwarantyn in 'n kleiner kamp aangehou was. Die jagluiperds word elk van 'n elektroniese halsband voorsien wat elke 18 maande met die hulp van die plaaslike veearts, dr. Glenn Carlisle, vervang moet word.
Volgens Van Schalkwyk was die stigting gelukkig om 'n deel van R5 miljoen te kry wat die Wes-Kaapse Projek Ontwikkeling bewillig het vir projekte om meer toeriste na die Wes-Kaap te lok.
"Met dié geld kon ons ook professionele jagluiperdgidse oplei." Tydens Dinsdag se bekendstelling is 'n groep genooide gaste op 'n toer geneem om die wyfie jagluiperd te sien, maar sy het hulle ontwyk. Hulle kon egter die sewe jaar oue mannetjie, wat nog in 'n kwarantynkamp aangehou word, te siene kry.
Met hierdie projek fokus Buffelsdrift veral op drie mikpunte, naamlik om jagluiperds elders te hervestig om inteling te voorkom, om jagluiperds in veilige areas waar hulle vrylik kan beweeg te hou en om toeriste in te lig oor die waarde van hierdie diere wat bedreig kan word sonder die nodige bewaringsinisiatiewe.
Volgens Van Schalkwyk is jagluiperds nie diere wat mense aanval nie en was daar sover bekend, nog nooit so 'n voorval in die wêreld nie.
Vir meer navrae oor Buffelsdrift se jagluiperdprojek kan die stigtingbestuurder, Arrie Crafford, by 044 272 0000 of per e-pos by info@buffelfsdrift.com gekontak word.
Die jagluiperdmannetjie wat verlede week nog in kwarentyn was.
Vorige artikel: Jagluiperdprojek buite Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'