OUDTSHOORN NUUS - 'n Oudtshoorniet se liefde vir woorde, wat reeds op skool deel van hom was, is nou op boekwinkels se rakke tussen die kinderboeke te sien.
Jacques Theart het pas sy tweede kinderboek, Butternut Jack, uitgegee.
Sy eerste kinderboek, Jasper en die koninklike muis, het ongeveer drie jaar gelede die lig gesien.
Nog 'n Oudtshoorniet, Hanlie Steyn, het gesorg vir die kleurvolle illustrasies in beide boeke.
Tussenin het Jacques ook 'n digbundel, Hemelhart, met ongeveer 120 gedigte uitgegee.
Sy heel eerste boek is egter reeds meer as tien jaar gelede in Amerika uitgegee.
"Ek het my eerste boek, Driving in the Dark, geskryf terwyl ek in Amerika gewerk het. Dis 'n boek met gedigte en kortverhale wat steeds op Amazon.com beskikbaar is."
Volgens Jacques kom die stories vir sy kinderboeke sommer net self by hom op.
"Dit vat nie lank om die storie neer te skryf nie, maar dit is baie werk om dit te verfyn en af te rond.
"Dan kom Hanlie se illustrasies by en as ek weer kyk is daar 'n paar maande verby."
Oor sy jongste skryfprojek wil Jacques nie veel uitwy nie. "Al wat ek kan sê is dat dit 'n koffietafelboek met foto's gaan wees wat Oudtshoorn uit 'n ander oogpunt benader."
Mense wat graag van Jacques se boeke wil bekom kan hom by 082 580 7654 skakel.
ARTIKEL & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'