OUDTSHOORN NUUS - Sowat 100 mense het Woensdagoggend die rommel langs die Grobbelaarsrivier met geesdrif getakel as deel van die internasionale Coastal Cleanup Campaign.
Die veldtog, wat in Suid-Afrika deur Plastics SA gedryf word, is vanjaar deur Trapsuutjies, 'n bewaringsonderneming sonder winsbejag, gekoördineer. Plastics SA het bioafbreekbare plastieksakke, handskoene en draadhakke verskaf waarmee mense die rommel op die oewers en in die loop van die rivier bymekaar gemaak het.
Al die rommel wat opgetel is, word aangeteken. Die inligting word aan Plastics SA gestuur vir insluiting in 'n nasionale en later ook internasionale verslag.
"Vandag se bewusmaking fokus op die Coastal Cleanup Campaign, daarom werk ons hier langs die Grobbelaarsrivier," sê Justine Esel van CapeNature. "Uiteindelik loop al die strome en riviere in die see en besoedel ons oseane."
"Ons moet mense bewus maak en vertel wat rommel aan ons omgewing doen," beaam haar spanmaat Charmaine Meyer. "Ons moet by die kinders begin omdat hulle môre se grootmense is," aldus Esel. Nellarie Koen en Marie Olivier van Oudtshoorn-aftreeoord, het ook hul kant gebring. "Die rivier is so 'n mooi landmerk in ons dorp, en ons moet dit mooimaak vir inwoners en die baie toeriste wat hier kom. Om skoon te maak dra by tot die bewaring van die aarde," sê hulle.
'n Span vrywilligers van die St Luigi's Scrosoppi-sorgsentrum was ook daar. "By die sentrum werk ons met kinders en ons leer vir hulle om netjies te wees en nie rommel te strooi nie," sê Jo-Anne Pockpas, wat voltyds by die sentrum betrokke is. "As hulle skoon leef, leef hulle gesond."
Die Klein Karoo Fonds, eienaar van die Queens-inkopiesentrum, is verteenwoordig deur Edward Wilkenson, Evert Somerset en Danville Moos. Die Oudtshoorn-munisipaliteit se werknemers het met hooivurke gehelp om rommel uit die rivierloop nader te hark sodat die ander dit kon optel en opteken.
Werknemers van die Uitgebreide Openbare Werke Program (EPWP), AIFA (International Flight Training Academy) en leerders van die Oudtshoorn Vaardigheidskool het ook deelgeneem aan die groot skoonmaak.
Kontak Marilize Beer by 065 801 4810 of marilizebeer@yahoo.ca of Susan Botha by 081 2484979 of sbotha0@gmail.com vir meer inligting oor Trapsuutjies se projekte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'