OUDTSHOORN NUUS - Die voormalige ontvangsdame van 'n gastehuis op Schoemanshoek, wat op twee van drie bedrogklagtes skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Die 34-jarige Emmerentia Weyngaardt is daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 meer as R557 000 van die eienaar van die Montana-gastehuis, Wolfgang Beitz, op bedrieglike wyse in ander bankrekenings oorbetaal het.
Sy is daaraan skuldig bevind dat sy betalings aan diensverskaffers moes gemaak het terwyl die geld eintlik in haar eie bankrekenings inbetaal is.
Sy is ook daaraan skuldig bevind dat sy in Augustus 2015 bedrae van onderskeidelik R30 000 en R80 000 aan 'n beleggingsrekening betaal het, terwyl die geld inderdaad in die persoonlike rekening van ene Bradley Titus inbetaal is.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees vir die misdrywe waaraan Weyngaardt skuldig bevind is.
Haar nuwe regshulpprokureur, Wenzel Botha, het egter vir 'n algehele opgeskorte vonnis gevra.
Streeklanddros LA Wilkens het met vonnisoplegging gesê dat 'n opgeskorte vonnis alleen nie gepas sal wees nie.
Hy het die beskuldigde tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is en ook tot drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur per dag onder huisarres vir die volle tydperk behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Sy moet haar ook weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol en agtien uur per week gratis gemeenskapswerk doen.
Lees vorige artikels:
- Montana-diefstalsaak vir uitspraak uitgestel
- Nog drama in Montana-bedrogsaak
- Verhoor van voormalige gastehuisontvangsdame uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'