Update
OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n voormalige ontvangsdame van 'n gastehuis op Schoemanshoek, wat van bedrog, alternatiewelik diefstal, aangekla word, is in die streekhof vir uitspraak tot volgende maand uitgestel.
Die 33-jarige Emmerentia Weyngaardt word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 meer as R557 000 van die eienaar van die Montana-gastehuis, Wolfgang Beitz, gesteel het.
Sy ontken skuld op al die aanklagte. Weyngaardt kon nie antwoord op 'n vraag van die landdros waarom die bankrekeningnommers van feitlik al die gastehuis se diensverskaffers dieselfde was as haar eie nie.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het met kruisondervraging dit aan haar gestel dat sy die hof mislei en haar weergawe aanpas.
Streeklanddros LA Wilkens het vroeër 'n Artikel 174 ontslagaansoek van Weyngaardt se nuwe regsverteenwoordiger, adv. Ezra Morrison, van die hand gewys en die saak verlede week tot 10 Desember uitgestel nadat hy die skriftelike betoë van die staat en die verdediging ontvang het.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'