OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van die vrou wat daarvan aangekla word dat sy tussen 2013 en 2015 meer as R557 000 van Montana-gastehuis gesteel het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof voortgesit.
Die saak teen Emmerentia Weyngardt is laat verlede jaar skielik stopgesit toe haar regsverteenwoordiger, Werner van Rensburg, 'n aansoek gebring het om die saak vir hersiening na die hooggeregshof te neem. Die aansoek is egter later teruggetrek nadat Van Rensburg hom aan die saak onttrek het. Weyngardt word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707.15 van die gastehuis gesteel het. Sy ontken skuld.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Daromé Burger, het sy by verskeie geleenthede dieselfde bedrae wat elektronies aan verskaffers betaal is ook na haar eie bankrekening oorgeplaas.
Johan Wagener is as Weyngardt se nuwe regsverteenwoordiger aangestel en die hofsaak is verlede week hervat. Tydens Wagener se kruisondervraging van Alfred Maseku, die sjef van die gastehuis, het hy dit aan Maseku gestel dat die eienaar van die gastehuis, Wolfgang Beitz, self by verskeie geleenthede dubbele betalings aan verskaffers gemaak het.
Hy het dit voorts aan Maseku gestel dat hy Beitz se witbroodjie is en skynbaar niks in sy werkgewer se oë verkeerd doen nie. Maseku het dit ontken.
Wagener het dit ook aan hom gestel dat hy op 'n keer homself teen die beskuldigde geskuur het en haar gesê het dat sy een van die dae die tweede mevrou Maseku sal word. Ook hierdie bewering is deur Maseku ontken.
Maseku het wel getuig dat daar op 'n keer foutiewelik R40 000 in sy bankrekening betaal is en dat die eienaar hom hieroor gekonfronteer het. Hy het toe vir Weyngardt gebel om te vra of sy dit miskien gedoen het. Volgens Wagener sal die beskuldigde dit ontken omdat dit vir haar niks in die sak sou bring nie.
Wagener het ook gesê sy kliënt sal ontken dat sy R110 000 in 'n man se bankrekening betaal het nadat hy haar by 'n gimnasium op Oudtshoorn ontmoet en van sy geldelike verknorsing vertel het.
Bradley Titus, het getuig dat hy die beskuldigde van sy geldelike verknorsing vertel het. Sy het later glo twee bedrae, eers R30 000 en later R80 000 in sy bankrekening oorbetaal. Op 'n vraag van Wagener of dit nie vreemd is dat iemand R110 000 in jou bankrekening betaal nie was Titus se antwoord dat hy dankbaar was, maar dat sy hom geïrriteer het. Hy het later op ander tye gimnasium toe gegaan om haar nie te sien nie.
Wagener het dit aan Titus gestel dat sy getuienis deurspek is van onwaarskynlikhede.Die saak is na twee dae deur streeklanddros LA Wilkens vir voortsetting tot 25 September uitgestel en die beskuldigde se borgtog tot dan verleng. Titus is gewaarsku dat hy teruggeroep kan word vir verdere kruisondervraging en moontlike herondervraging deur die staat nadat selfoonrekords bekom is.
Adv. Michelle Weyers is die aanklaer en ao. Daromé Burger die ondersoekbeampte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'