Update
OUDTSHOORN NUUS - Die perseel van MG Bottles en MG Water in Ghwarriestraat het groot skade gely toe 'n brand gisteroggend omstreeks 08:00 in een van die geboue uitgebreek het.
Volgens die eienaar van die onderneming het 'n kortsluiting in die dak waarskynlik die brand veroorsaak.
Die gedeelte waar die brand uitgebreek het is 'n vloer bokant die onderneming se ysfabriek waar hout en byekaste gestoor word.
Dit blyk dat die kortsluiting 'n brand by die byekaste veroorsaak het. Die brandweer se taak is aanvanklik bemoeilik omdat die gebou met digte rook gevul was.
Brandbestryders kon daarin slaag om twee dakplate uit te breek sodat die rook kon ontsnap en hulle beter sig kon hê. Van die kaste het byewas in gehad wat die vlamme nog verder aangevuur het.
Die gedeelte van die gebou wat gebrand het, is gelukkig met 'n muur van die res van die gebou afgeskort wat verhoed het dat die brand na die res van die onderneming versprei.
Die brandweer het na ongeveer 'n uur en 'n half die brand geblus. Hulle het daarna nog 'n ruk op die toneel gebly om seker te maak van die goedere wat op die boonste vloer gestoor was, vat nie weer vlam nie.
Die eienaar van die onderneming kon teen gister nog nie bepaal wat die totale skade is wat deur die brand aangerig is nie en het gesê dat 'n assessor vandag die onderneming sou besoek om die skade te bepaal.
Niemand is tydens die brand beseer nie.
Brandbestryders op die dak van die gebou.
Rook borrel uit die agterste gebou van MG Bottles en MG Water in Gwarriestraat waar brandbestryders gespook het om die brand te blus. Foto: Liezl van Niekerk
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'