CALITZDORP-NUUS - Gielie Basson, ’n bekende inwoner van Calitzdorp, beplan om vir ’n tweede keer die Guinness-wêreldrekord vir die langste braaisessie aan te durf, hierdie keer met ’n nuwe mikpunt van 100 ure ononderbroke braai.
Die poging vind 24 tot 28 September plaas.
Basson het reeds in 2023 ’n poging aangewend om die huidige rekord van 80 uur, wat deur Suid-Afrikaner Jan Greeff in 2014 opgestel is, te breek. Hy wou dit met vier ure verbeter.
Alhoewel hy die 84 uur-merk met gemak verbygesteek het, is sy poging uiteindelik van die hand gewys weens tegniese probleme met die tydsberekening.
“Ek stem nie saam met hul beslissing nie, maar ek moet dit aanvaar,” sê hy. “Wat my getref het, is dat hulle nie eers die video’s gebruik het om hul besluit te bevestig nie.”
Hy sê sy grootste doelwit met die braairekord is om mense van regoor die wêreld van Calitzdorp bewus te maak.
“Ek doen dit uit en uit net vir die dorp. Ek wil hê mense moet kom en ons besighede en kelders besoek. Hulle moet sommer vir ’n naweek by ’n gastehuis bly en saam met ons kom kuier.”
Tog het hy besluit om vir oulaas weer te probeer.
Fondsinsameling vir skool
Basson sê hy beoog ook om met hierdie geleentheid geld vir Gamka-Oos Primêr, die laerskool in Calitzdorp, geld in te samel om verbeteringe aan die skool aan te bring.
Enigiemand wat met hom wil kontak maak kan vir hom ’n e-pos by Gielie.basson@outlook.com
Lees meer in die week se Oudtshoorn Courant.
Vorige artikels:
- Gielie braai 84 uur
- Gielie Basson het minder as 6 ure om te gaan
- Opvolg: Klein Karoo op die kole
- Klein Karoo op die kole: Gielie se potbrood
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’