OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het in Mei ’n gemeenskapsprojek onder leiding van Hennie Davel, bestuurslid (portefeulje, netheid en veiligheid van die sakekern van Oudtshoorn) van stapel gestuur.
Die doel is om nie net die dorp netjieser te maak nie, maar ook om verskeie instandhoudingstake aan te pak.
Hierdie projek, wat in samewerking met korrektiewe dienste en die Oudtshoorn-munisipaliteit uitgevoer word, maak gebruik van persone wat ingevolge hofbevele gemeenskapsdiens moet verrig.
Intussen word persone wat nie op parool is nie, en deur die hof gelas word om gemeenskapsdiens te verrig aangewend om die begraafplase in Oudtshoorn skoon te maak.
Volgens Davel moet hulle op ’n sekere dag en tyd by die begraafplaas aanmeld waarna hy hulle aan die werk sit vir die ure wat hulle moet voltooi.
Die eerste begraafplaas waar skoffel- en opruimwerk gedoen is, is Oudtshoorn-begraafplaas, volgende op die lys is die Metodiste- en Joodse-begraafplase.
Volgens Davel versterk die projek die persone se sin van verantwoordelikheid en gemeenskapsverbondenheid. Davel het met die landdros en hoofstaatsaanklaer by die Oudtshoorn-landdroshof onderhandel om die projek in werking te stel.
“Wanneer die breër gemeenskap direk voordeel trek uit die werk van hierdie individue, is dit ’n teken dat rehabilitasie werklik suksesvol is.”
Vorige berig
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’